sr1206hoofkos_1_
Resepte

Pain de Campagne (Franse Suurdeegbrood)

(2 brode)

Suurdeeg

  • 200 g (360 ml) broodmeel
  • 50 g (90 ml) donker rogmeel
  • 5 g (½ pakkie) kitsgis
  • 5 g sout
  • 175 ml water

Brood

  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 100 g (180 ml) donker rogmeel
  • 5 g (½ sakkie) kitsgis
  • 10 g (10 ml) sout
  • 400 ml water

Suurdeeg

Meng al die bestanddele en plaas 6 uur of oornag in yskas om te rys.

Brood

Plaas uitgerysde suurdeegmengsel in bak van elektriese menger.

Voeg res van bestanddele by en meng op matige spoed tot deeg in een bal saamkom, sowat 10 – 15 minute.

Plaas deeg in ’n bak wat met olie gesmeer is en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 1 uur. Knie af en laat rys vir nog 20 minute.Herhaal proses nog 2 keer. Deel deeg in 2 ewe groot porsies en vorm elk in ’n ronde bol.Plaas op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is en laat rys tot dubbel die volume.

Terwyl brood vir laaste keer rys, verhit oond tot 220 °C.

Sif ’n bietjie meel oor brood. Gebruik skerp mes en sny 3 snye in oppervlak van brood.

Bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel.

Wenk

Bakkers gebruik ’n outydse skeermeslemmetjie (Minora Blade) om die mooi patroon bo-op die brood te sny voor dit bak. (elke bakker het sy eie patroon, dis byna soos sy handtekening.) Werk net versigtig as jy dit probeer, want die lem is baie skerp.

  • Graatjie Hills

    My man is die bakker in ons huishouding en het jul Pain de Campagne (Franse Suurdeegbrood) op die proef gestel. D E V I N E!! Nou bak hy dit gereeld en veral as ons gaste onthaal. Ek sny dit in repies en bedien soms as voorgereg met olyfolie en balsamiese asyn. Regtig ‘n wenresep!