Resepte

Pampoentertjies

(6 porsies)

Deeg

  • 250 g meel
  • 15 ml strooisuiker
  • 2 ml bakpoeier
  • 180 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
  • 30 ml koue water
  • 5 ml vanieljegeursel

Gooi meel, suiker, bakpoeier en botterblokkies in voedselverwerker. Meng saam totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg koue water en vanieljegeursel bietjie vir bietjie by tot dit ’n lekker deeg vorm. (Jy sal dalk nie al die vloeistof nodig hê nie.) Maak deeg toe met kleefplastiek en los in yskas vir sowat 30 minute.

  • 500 g pampoen, in blokke gesny (koop sommer dié wat reeds gesny is)
  • 125 ml esdoringstroop (maple syrup)
  • 2 eiers
  • 125 ml room
  • 1 eierwit, effens geklits
  • strooisuiker om bo-op die deeg te sprinkel

Verhit oond tot 180 °C. Stoom of kook pampoen tot sag. Dreineer om van die oortollige water ontslae te raak. Verpulp pampoen in voedselverwerker tot glad. Laat die pampoenmoes afkoel. Klits die esdoringstroop, eiers en room saam. Rol deeg uit en voer goedgesmeerde tertbakkies uit met deeg. Hou orige deeg om die rande van die tertbakkies later mee te versier. Prik deeg met ’n vurk en plaas ’n stuk waspapier in elke bakkie. Vul met droë bone en bak deeg vir 15 minute. Laat die tertdoppies afkoel. Maak die res van die deeg bymekaar en rol weer uit. Druk klein sirkels uit. Verf die rand van elke tertbakkie met die geklitste eierwit. Plaas klein sirkels bo-op die rand van die deeg. Verf deeg met nog eierwit. Vul elke bakkie met pampoenvulsel. Sprinkel strooisuiker bo-op die deeg-rand. Plaas tertbakkies op ’n bakplaat en dan in die warm oond. Bak vir 45 minute.