Resepte

Pannekoek met karamelsous

genoeg vir 24 pannekoeke

• 1 liter melk
• 6 eiers
• 20 ml sonneblomolie
• 10 ml vanieljegeursel
• 200 g (250 ml) suiker
• 420 g (750 ml) koekmeel
• 2 ml sout
• 5 ml neutmuskaat
• ekstra sonneblomolie vir braai
• 200 g bessies van jou keuse

Karamelsous

• 1 x 360 g-blikkie karamelkondensmelk
• 80 ml melk
• 85 g fudge, fyngekap (opsioneel)

Klits melk, eiers, olie, vanielje en suiker saam in ’n middelslag-mengbak. Sif meel, sout en neutmuskaat by en meng tot gladde beslag. Laat rus vir 10 minute in yskas. Verhit ’n klein bietjie olie in ’n braaipan tot warm. Bedek bodem van pan met ’n dun lagie beslag en braai sowat 30 sekondes per kant tot goudbruin en gaar.

Vir die karamelsous, plaas karamel en melk saam in ’n middelslag-pot oor matige hitte. Klits met draadklitser tot loperige, gladde mengsel. Voeg fudge by, indien jy dit gebruik.

Sit pannekoek voor met karamelsous en bessies.

  • Anita

    Ongelooflik lekker, ek sal dit eet vir ontbyt, middagete, aandete, laat aand ete, middel van die nag ete en, en,en…. dit lyk ook so mooi!!!

  • Nicoline du Preez

    Sjoe dit lyk asemrowend lekker!!! Gaan dit defnitief probeer.