Paptert
Resepte

Paptert

Dié tipies Suid-Afrikaanse gereg word saam met braaivleis voorgesit.

8 – 10 porsies

• 1 liter water
• 10 ml sout
• 625 ml mieliemeel
• 30 ml botter
• 250 ml gerasperde pecorino-kaas

Bring die water en sout tot kookpunt. Meng die mieliemeel met water tot ’n gladde pasta. Voeg die pasta by die water en roer om klonte te vermy. Verlaag hitte van plaat en maak kastrol toe met ’n deksel. Laat staan die pap vir so 10 minute. Roer botter en pecorino-kaas deur.

Vulsel

• 15 ml botter
• 250 g repiespek (streaky bacon), in blokkies gesny
• 250 g sampioene, in skywe gesny
• 1 ui, fyngekap
• 1 blik (410 g) mieliepitte, gedreineer
• 2 blikke (400 g elk) gekapte tamaties
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 250 ml room
• 250 g cheddarkaas, gerasper
• sowat 10 vars basiliekruidblare, geskeur

Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter in ’n pan en braai spek en sampioene en ui saam. Smeer ’n oondbak van sowat 30 x 20 cm met ’n bietjie botter. Skep helfte van pap onderin bak. Skep spek-en-sampioen-mengsel bo-op. Sprei mieliepitte bo-op saam met een blik se tamaties. Geur met sout en swartpeper. Skep orige pap bo-op. Sprei die ander blik tamaties bo-op, gooi room oor en besprinkel met kaas. Bak vir 30 – 40 minute. Garneer met vars basiliekruid en sit warm voor saam met braaivleis.