Resepte

Pavlova met rooiwyn-pere

Pavlova

  • 8 eierwitte
  • 250 g strooisuiker
  • 200 g versiersuiker, gesif
  • 25 g mielieblom, gesif

Klits die eierwitte tot sagte punte vorm en klits die strooisuiker bietjie vir bietjie by totdat die mengsel styf is. Vou die versiersuiker en mielieblom versigtig in die meringue in. Voer ’n bakplaat met gesmeerde bakpapier uit. Trek 2 groot sirkels op die bakpapier en vul ’n spuitsak met die meringuemengsel. Spuit dan die buitekant van die sirkels met die meringue en skep daarna lepelsvol meringue in die binnekant om dit op te vul. Bak teen 120 ˚C vir 3 uur totdat die meringue heeltemal droog is. Laat heeltemal koud word in die oond.

Rooiwyn-pere

  • 6 pere
  • 1 bottel rooiwyn
  • 110 g suiker
  • 1 kaneelstok
  • 2 ster-anys
  • skil van een lemoen en suurlemoen
  • 25 ml mielieblom

Skil die pere – hou die stingels aan – en plaas in water met ’n bietjie sout. Meng die mielieblom met ’n bietjie rooiwyn om ’n dun pasta te vorm. Bring die res van die rooiwyn, suiker, kaneel, ster-anys en skil in ’n groot kastrol tot kookpunt. Roer tot al die suiker opgelos is. Plaas die pere heel in die rooiwyn, bedek en laat kook vir ongeveer 25 minute tot sag (draai die pere nou en dan om). Verwyder die pere uit die stroop en gooi die sous deur ’n sif. Gooi die sous terug in die kastrol. Voeg die mielieblom-mengsel by en kook stadig tot verdik. Gooi sous oor die pere en laat koud word. Om die pavlova bymekaar te sit klits 1 liter room styf. Plaas die helfte van die geklitste room bo-op een meringue-sirkel. Plaas die ander meringue bo-op en skep die orige room oor. Sny die rooiwyn-pere in skywe en rangskik bo-op. Bedruip die pavlova met van die stroop.