Resepte

Peperforel-quiche

(6 porsies)

Deeg

  • 200 g koekmeel
  • 100 g koue botter
  • knippie sout
  • 30 ml koue water

Plaas die meel in ’n mengbak. Rasper die koue botter in. Vryf die botter in die meel met jou vingerpunte. Voeg die sout by. Gooi die koue water by en maak aan tot ’n deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir 30 minute. Verhit jou oond tot 180 °C. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak, so dun as moontlik. Voer ’n 11 cm-losboomquichepan met die deeg. Plaas in die yskas vir 30 minute. Prik die deeg met ’n vurk en plaas ’n laag bakpapier bo-op. Vul die bakpapier met droë bone. Bak blind vir 10 – 15 minute. Haal uit die oond en verwyder die papier en bone.

Vulsel

  • 6 peperforel-filette
  • 8 vars aspersies, geblansjeer en in derdes gesny
  • handvol vars gekapte dille
  • 20 g kappertjiesaad
  • 300 ml room
  • 4 eiergele
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Breek die forel-filette in groot stukke. Rangskik in die deegdop. Voeg die aspersies, dille en kappertjiesaad by. Klits die room en eiergele saam en geur met sout en swartpeper. Gooi die roommengsel versigtig oor die vis-vulsel. Bak vir 25 minute tot gestol.