Resepte

Peter de Wet se sjokolade-pavlova

(6 porsies)

  • 125g (135ml) sagte botter
  • 400g (500ml) suiker
  • 3 eiers
  • 280g (500ml) koekmeel
  • 15ml bakpoeier
  • 5ml vanieljegeursel
  • 200g donkersjokolade
  • 190ml melk
  • 30ml brandewyn
  • 4 eierwitte
  • 105g (125ml) strooisuiker
  • vanielje-roomys

Verhit oond tot 180ºC. Klits die botter in ‘n mengbak, verkieslik met ‘n elektriese klitser, en voeg suiker bietjie vir bietjie by. Die botter moet lig en romerig lyk. Voeg eiers een-een by en klits elke keer goed. Moenie skrik as die mengsel lyk asof dit geskif het nie. Voeg meel, bakpoeier en vanieljegeursel by en meng goed. Smelt sjokolade in mikrogolfoond of in ‘n bak oor ‘n kastrol met warm water. Voeg gesmelte sjokolade, melk en brandewyn by. Meng goed. Skep mengsel in langwerpige koekpan van sowat 30 x 20 cm. Die koek moenie baie hoog wees nie. Bak vir 45 minute. Draai temperatuur af na 140°C en bak vir nog 15 minute. Haal uit en laat afkoel. Sny 6 sirkels uit koek. Klits eierwitte tot styf en voeg strooisuiker bietjie vir bietjie by. Klits goed ná elke byvoeging tot ‘n gladde, blink meringue. Sit koeksirkels op ‘n bakplaat en skep ‘n groot lepel roomys bo-op elkeen. Smeer meringue oor om roomys goed te bedek. Sit terug in oond tot
meringue-punte net-net bruin raak. Sit onmiddellik voor.

Om te drink:
De Wetshof Muscadel, een van min wynsoorte wat soetgoed aanvul.