Resepte

Petit Fours

  • 5 eiers, geskei
  • 1 eiergeel
  • 100 g fyn amandels
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 120 g strooisuiker
  • 120 g meel, gesif

Vulsel

  • 6 eetlepels fyn appelkooskonfyt
  • 200 g amandelpasta (marsepein)

Versiersel

  • 600 g versuikersuiker, gesif
  • ongeveer ½ k water (hier moet jy skat)
  • 30 ml suurlemoensap
  • Versuikerde roosblare

Voer twee 28 cm x 18 cm-bakplate uit met waspapier. Smeer of spuit die papier goed met botter of Spray & Cook. Klits die eiergele saam met die amandels, suurlemoenskil en die helfte van die suiker. Klits die eierwitte styf en vou die res van die suiker in. Vou die eierwitte in die eiergeel-mengsel en laastens die gesifte meel. Verdeel die mengsel tussen die twee bakplate. Die mengsel is taamlik styf, so jy sal dit met ’n paletmes in die bak-plaat moet smeer. Bak teen 220 °C vir 10 tot 12 minute. Keer uit op skoon waspapier en smeer elkeen met appelkooskonfyt. Plaas die een koek bo-op die ander met die konfyt na bo. Verdeel die koek in 3 en plaas die stukke bo-op mekaar sodat jy 6 lae het. Knie die amandelpasta voor jy dit rol. Strooi ’n bietjie mielieblom op jou werkoppervlak en rol die amandelpasta dun uit. Sit dit bo-op en sny die oortollige pasta af. Maak toe met tinfoelie en sit ’n swaar broodplank met nog ’n gewig bo-oop. Laat staan vir 24 uur. Dit sal die hele storie nou platter maak. Sny dan in mooi, langwerpige vingers. Om die versiersel te maak moet jy skat – dit moet lekker loperig wees, maar net nie te dun nie. Dit moet die koek kan bedek. Sif die versiersuiker in ’n bak en gooi die water by tot jy jou verlangde dikte gekry het. Voeg dan die suurlemoensap by. Sit nou al die koekies op ’n afkoelrak met ’n bakplaat onder (dit gaan ’n bietjie mors). Om dit makliker te maak het ek die kante in die versiersel gedoop en dan nog oorgegooi. Versier met ’n roosblaar wat jy met eierwit gesmeer en strooisuiker bo-oor gegooi het. Kyk dan hoe vroulik is dit!