Resepte

Platbrood met hoemoes

  • 2 x 400 g-blikke kekerertjies, gedreineer en doppe verwyder
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml tahini-pasta (kyk in jou supermark se gesondheidsafdeling)
  • 60 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 60 ml botter
  • 45 ml paprika

Brood

  • 125 ml water
  • 10 ml sout
  • 45 ml olyfolie
  • 45 ml heuning
  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 20 ml fyn komyn
  • 60 ml sonneblomolie

Plaas kekerertjies, knoffel, tahini en olyfolie in voedselverwerker en verwerk op hoë spoed tot glad. Geur met sout en peper. Plaas botter en paprika in ’n middelslag-pot en bring tot kookpunt. Laat prut vir 3 minute of tot die botter ’n neutbruin kleur kry. Hou eenkant. Brood: Meng water, sout, olyfolie en heuning saam in ’n middelslagmengbak. Voeg genoeg meel by tot ’n stywe, kniebare deeg vorm. Knie vir
8 – 10 minute of tot ’n gladde, elastiese deeg. Laat rus vir 20 minute. Verdeel deeg in 10 ewe groot porsies. Strooi koekmeel op werkoppervlak en rol deeg tot papierdun met ’n koekroller uit. Sprinkel ’n bietjie komyn oor elke brood en rol koekroller nog een laaste keer oor. Die vorm van die brood maak nie saak nie. Verhit ’n klein bietjie sonneblomolie in ’n skoon braaipan. Plaas deeg in warm pan en braai 5 – 8 minute per kant of tot goudbruin. Herhaal tot al die brood gebraai is. Skep hoemoes in ’n opdienbakkie en gooi paprikabotter oor. Sit voor saam met brood.