Resepte

Post Toasties-tert

Dis tannie Bertie (Ouma se suster) se Post Toasties-tert dié. Saterdagmiddae is daar altyd gebraai op die plaas. En deel van die braai was hierdie tert as nagereg. Ek kon nie gou genoeg my tjops en wors opeet om by die poeding uit te kom nie. Die Post Toasties-tert (vandag Corn Flakes of graanvlokkies) is altyd in die Agastoof gebak en warm voorgesit. Net soos jy as ’n kind só opgewonde geraak het oor Kersfees dat jy die vorige aand nie kan slaap nie, so was Vrydagaande op die plaas vir my. Want ek het geweet die volgende dag is daar Post Toastiestert! Die tert is altyd in ’n groot bak gebak en almal het oor ’n hoekstukkie baklei, want dis waar die meeste Post Toasties is. Vandag het ek besluit om die tert in klein bakkies te maak sodat daar vir almal genoeg kors kan wees.

Kors

Besluit of jy die tert ook in klein bakkies gaan maak of in een groot bak. Vir een groot bak (so 30 cm x 15 cm) het jy die volgende hoeveelhede nodig vir die kors:

  • 3 koppies (750 ml) fyngedrukte Post Toasties (graanvlokkies)
  • 1½ koppie (375 ml) gesmelte botter (Gebruik botter, dit maak ’n verskil.)  
  • 1 koppie (250 ml) suiker  
  • 1 teelepel (5 ml) fyn kaneel

Gooi die Post Toasties in ’n plastieksak en rol dit fyn met ’n koekroller. Voeg die gesmelte botter, suiker en kaneel by. Meng goed. Druk die mengsel in ’n bak – en wees maar geduldig, want die kante van die bak moet ook met die mengsel uitgevoer word.  As jy klein bakkies gebruik, sal jy ongeveer 15 uitkry (die klein wit ramekin-bakkies).

Vulsel

  • 4 koppies (1 liter) melk
  • 4 eetlepels (60 ml) meel   
  • 2 koppies (500 ml) suiker   
  • 2 eetlepels (30 ml) botter   
  • 4 eiers, geskei

Gebruik ’n bietjie van die melk om die meel in ’n dun pasta aan te maak. Verhit die res van die melk tot kookpunt. Voeg die meelpasta, suiker en botter by. Roer aanhoudend. Die vulsel raak soos ’n dun witsous. Laat die mengsel afkoel voor jy die eiergele byvoeg. Klits die eiergele effens en voeg by wanneer die melkmengsel afgekoel het. Klits die eierwitte styf en vou by melkmengsel in. Gooi mengsel in bak of in klein bakkies en bak in voorafverhitte oond (160 °C) vir omtrent 45 minute. Die vulsel moet gestol wees. Sit warm voor – en glo my, dis die crème de la crème van alle warm nageregte.