Resepte

Prei-pissaladière

(6 porsies)

Deeg

  • 250 g meel
  • 250 g semolina
  • 1 x 10 g kits-suurdeeg
  • 2 ml sout
  • ongeveer 300 ml louwarm water

Meng die meel en semolina saam in ’n groot mengbak. Voeg die suurdeeg en sout by. Giet die louwarm water by, maar nie alles op een slag nie. Maak aan tot ’n lekker stywe deeg. Gooi meel op jou werkoppervlak en knie die deeg vir minstens 10 minute tot glad en elasties. Plaas die deeg terug in ’n bak en smeer ’n bietjie olyfolie oor. Maak met kleefplastiek toe en laat staan op ’n warm plek tot die deeg tot dubbel die grootte gerys het voor jy dit afknie. Smeer ’n groot bakplaat met ’n bietjie olyfolie en rol die deeg in die gewenste vorm.

Bo-laag

  • 40 g botter
  • 15 ml olyfolie
  • 12 groot preie, in dun skywe gesny
  • 2 takkies vars tiemie
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 15 ml olyfolie
  • 2 x 50 g ansjovis-filette
  • 100 g ontpitte swart olywe

Smelt die botter en 15 ml olyfolie in ’n pan. Voeg die preie, knoffel en tiemie by. Maak die pan met ’n deksel toe en laat kook oor ’n lae hitte vir so 30 minute. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper en laat afkoel. Smeer die ander 15 ml olyfolie oor die deeg. Sprei die prei-mengsel oor die deeg. Rangskik die ansjovis-filette en olywe bo-op. Bak in ’n warm oond teen 200 °C vir 20 minute. Sny in blokke of lang stukke, nes jy wil. Sit koud of warm voor, albei is ewe lekker.