quiches_0172
Resepte

Quiche met gekaramelliseerde uie en bokmelkkaas

(8 – 10 porsies)

Kors

  • 1 x 400 g-blik cannellini-bone, afgespoel, gedreineer en in voedselverwerker fyngemaak
  • 100 g rogbroodkrummels
  • 125 ml koek- of rogmeel
  • 1 eier
  • knippie sout
  • 50 – 100 ml volkoringmeel (of nog rogmeel)

Plaas al die bestanddele behalwe die volkoringmeel in die voedselverwerker. Verwerk tot glad. Voeg genoeg volkoringmeel by om ’n werkbare deeg te vorm. Rol dun uit op meelbestrooide oppervlak. Spuit ’n vlak 30 cm-quiche-pan of 35 x 11cmlosboompan goed met kleefwerende kossproei en druk die deeg egalig daarin uit. Sny die oortollige deeg van die kante af. Bak die kors by 160 °C vir 10 minute. Verkoel tot benodig.

Vla

  • 125 ml warm vetvrye melk
  • 250 ml laervet-room (reduced fat)
  • 3 ekstragroot eiers
  • 2 eierwitte
  • 1,5 ml sout
  • 1 ml gemaalde witpeper
  • 10 ml vars tiemie
  • ruim knippie gerasperde neutmuskaat

Klits al die bestanddele saam en laat eenkant staan tot benodig.

Vulsel

  • 20 ml olyfolie
  • 3 groot rooi-uie, in ringe gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 10 ml balsemasyn
  • 200 g gewone laevet-bokmelkkaas
  • 100 ml laervet-cheddarkaas, gerasper
  • 25 ml parmesaankaas, gerasper

Verhit olie en braai uie tot deurskynend. Verlaag temperatuur en laat uie oor lae hitte kook vir 40 minute. Roer gedurig. Voeg balsemasyn by en braai vir nog 10 minute. Verwyder van hitte, geur met sout en peper en laat afkoel. Meng met kase.

Samestelling

Berei eers die uie. Verhit oond tot 180 °C. Skep afgekoelde uie in kors. Krummel bokmelkkaas bo-oor, gevolg deur cheddar. Gooi eiervla-mengsel bo-oor, gevolg deur parmesaan. Bak vir 30 – 40 minute tot gestol.

Analise

1 porsie -  130-150 g

Energie - 1090 kJ

Koolhidrate - 21.7 g

Proteïen - 13.7 g

Totale Vet – 13.5 g

Versadigde vet - 7 g

Mono-onversadigde vet - 4.6 g

Poli-onversadigde vet - 1 g

Vesel - 3.9 g

Glukemiese lading (GL) - 6.9

Opmerkings :

Rogmeel is ‘n goeie alternatief vir mense wat allergies is vir koring. Jy kan enige bone gebruik. Dit verhoog die vesel-inhoud en verlaag die GL-waarde.