FOTO Donna Lewis

Resepte

Rafelvark-rolletjies

Die vleis maak jy oornag gaar en sit dit dan in broodrolletjies voor. Jy kan natuurlik jou eie rolletjies vars bak as jy tyd het.

genoeg vir 6

• 60 ml olyfolie
• 1,25 kg ontbeende varkboud
• 2 uie, gekap
• 3 knoffelhuisies, gekap
• 200 g tamatiepasta
• 1 x 400 g-blik tamaties
• 750 ml rooiwyn
• 45 ml gerookte paprika
• 1 hand vol origanum, gekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 6 broodrolletjies
• 2 tamaties, in skywe gesny

Verhit oond tot 110 °C. Verhit olyfolie in ’n middelslagpot. Plaas varkboud velkant na onder in pot en braai sowat 5 – 8 minute tot goudbruin. Haal uit pot. Voeg uie en knoffel by en braai sowat 3 – 5 minute tot goudbruin. Sit varkboud terug in pot. Voeg tamatiepasta, tamaties, rooiwyn, paprika en origanum by. Geur goed met sout en swartpeper. Bring tot kookpunt en haal van plaat af. Bedek pot met deksel en plaas oornag in warm oond – sowat 8 uur. Verwyder gaar boud uit sous. Gebruik dan ’n vurk en trek varkvleis in growwe stukke. Gooi ’n klein bietjie van die potsous by die vleis tot die mengsel lekker klam is. Sny rolletjies oorlangs oop en pak skywe tamatie daarin. Skep vleis in elke broodjie en sit voor met mielie-salsa (sien wenk).

Wenk

MAAK SALSA SÓ Kook 2 mielies tot gaar en braai bruin in warm riffelpan. Sny pitte los met skerp mes en meng met 1 hand vol gekapte koljander en 1 gekapte rooi-ui. Drup sap van 1 suurlemoen oor en geur goed met sout en peper