Resepte

Rankboontjiebredie met kruie- crème fraîche

4 porsies

  • 600 g rankboontjies (runner beans)
  • 3 takkies vars bonekruid (summer savoury) of dragon (tarragon)
  • 6 tamaties
  • 2 uie, grofgekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 30 ml olyfolie
  • 15 ml tamatiepuree
  • 100 ml groente-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 15 ml fyngekapte vars basiliekruid
  • 150 g crème fraîche
  • 50 g okkerneute, grofgekap

Sny punte van bone af. Bring ’n kastrol met water tot kookpunt en voeg bone en bonekruid by. Laat kook tot sag maar nog effens bros. Sny ’n kruisie onderin elke tamatie en dompel vir sowat 1 minuut in kookwater. Haal uit en trek velle af. Sny in happie-groottes. Soteer uie en knoffel in olyfolie tot sag en deurskynend. Voeg tamatiepuree, tamaties en aftreksel by. Geur met sout en swartpeper. Laat prut vir 10 minute. Meng intussen die basiliekruid met die crème fraîche en geur met sout en swartpeper. Dreineer bone en verwyder kruie. Skep tamatiemengsel in bakkies en voeg bone by. Garneer met vars bonekruid-takkies en sit voor met die crème fraîche en okkerneute.