sk0409ritrovo13
Resepte

Ravioli di Pollo, Funghi e Mortadella con Salsa Rosé

(2 porsies)

Pasta

  • 2 eiers
  • 1 eiergeel
  • 200 g koekmeel
  • knippie sout

Gooi die meel in ’n hopie op jou werkoppervlak. Maak ’n holte in die middel en gooi die eiers en eiergeel daarin. Meng die eiers en meel met jou hande. Voeg die knippie sout by en meng tot ’n deeg vorm. Maak toe met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 15 minute.

Vulsel

  • 10 ml olyfolie
  • ½ ui, fyngekap
  • 100 g ontbeende hoenderborsie, in klein blokkies gesny
  • 1 sny mortadella, in klein blokkies gesny
  • 125 ml gekapte sampioene, in klein blokkies gesny
  • knippie fyngekapte pietersielie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die ui tot sag en deurskynend. Voeg die hoender en mortadella by en braai vir sowat 1 minuut. Voeg die sampioene en pietersielie by en braai tot die sampioene sag is. Geur met sout en swartpeper. Haal die vulsel van die hitte af en kap verder fyn, maar nie tot ’n pappery nie. Die vulsel moet nog taamlik grof wees.

Sous

  • olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 blikke Italiaanse tamaties (410 g x 2)
  • hand vol vars basiliekruid, geskeur
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 50 ml room

Verhit olyfolie in ’n pan. Braai die knoffel vir sowat 1 minuut tot goudbruin. Voeg die tamaties by. Geur met basiliekruid, sout en swartpeper. Kook oor baie hoë hitte vir
5 minute. Voeg die room by en kook nog 2 minute.

Maak só jou ravioli

Rol die pastadeeg dun uit. Sny reghoeke van sowat 15 x 7 cm. Skep van die vulsel in die middel van elke reghoek. Vou die pastadeeg en druk vas. Maak seker al die lugblase word uitgedruk. Druk die rand vas met ’n vurk. Kook die ravioli vir 2 minute. Sit voor met ’n lekker groot skep van die sous en vars parmesaan-kaas.

Om te drink
Roodeberg White Blend