Resepte

Ravioli met 3 verskillende vulsels

Maak 3 verskillende vulsels as jy wil, of net een. Moet sê, om al drie voor te sit saam met vars roket en olyfolie as ’n voorgereg is baie imponerend. Ek stel voor jy maak verskillende vorms vir elke vulsel; dan weet jy wat is wat in elkeen.

Botterskorsie met fetakaas

Skil en sny en botterskorsie in blokkies. Kook tot net gaar of stoom. Moenie sout bygooi nie, want die Feta is sout genoeg. Krummel 200 g Fetakaas by die botterskorsie en druk die hele spul fyn met ’n vurk.

Spinasie en feta

Ek gebruik bevrore spinasie. Laat die spinasie in ’n sif ontdooi. Braai 1 gekapte ui in so 2 eetlepels botter saam met 2 fyngedrukte huisies knoffel. Wanneer die ui deurskynend is, voeg 400 g spinasie by en braai vir so 5 minute. Gooi uit in bak en laat effens afkoel voor jy die Ricottakaas en eier byvoeg. Wanneer effens afgekoel, voeg 400 g Ricotta en 1 geklitste eier by. Roer met vurk deur – maak seker dat als goed gemeng is. Geur met sout en swartpeper.

Spek, sampioene en ricotta

Kap so 200 g wit sampioene effens op – nie te fyn nie. Braai 1 fyngekapte ui in ’n pan, saam met 250 g repies spek wat in klein blokkies gesny is. Voor die spek te bros raak, voeg sampioene by en braai tot gaar. Gooi uit in bak en laat afkoel. Voeg 200 g Ricotta by, meng goed en geur met swartpeper. Breek ’n hand vol vars basiliekruid by die mengsel. Proe voor jy sout bygooi, want die spek kan sout wees.