Resepte

Ravioli met botterskorsie en fetakaas

Ravioli-pasta

  • 250 g koekmeel
  • 250 g semolina
  • 5 eiers

Meng meel en semolina saam. Breek die eiers in die mengsel. Meng al die bestanddele met jou hande tot ’n deeg. Knie deeg tot elasties. Rol nou die deeg so dun as moontlik met ’n koekroller uit. Verf water oor die hele pastavel. Skep van die vulsel met ’n teelepel daarop, so 5 cm uitmekaar. Vou deeg oor die vulselhopies. Druk die boonste laag pasta om die vulsel en maak seker al die lug is uit, anders kan die kussinkies oopgaan wanneer dit gekook word. Bring ’n kastrol met water tot kookpunt. Gooi die ravioli versigtig in die kookwater. Wanneer hulle boontoe kom, is hulle gereed. Skep met ’n gaatjieslepel uit en plaas so 3 op ’n bord. Skep van die saliebotter oor.

Botterskorsie-en-fetakaas-vulsel

  • 420 g botterskorsie
  • 200 g fetakaas, gekrummel
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Stoom of kook jou botterskorsie tot sag. Dreineer oortollige water. Druk die botterskorsie fyn en meng met die fetakaas. Geur met swartpeper.

Saliebottersous

  • 125 g botter
  • 12 – 16 vars salieblare

Net voor jy die ravioli voorsit, smelt die botter in ’n kastrol saam met die salieblare. Die botter sal effens begin brand en klein swart kolletjies in die pan begin vorm. Skep die saliebotter oor die ravioli.