Roomyskoekies
Resepte

Roomyskoekies

Hierdie is my oplossing vir roomys as inpak-kos.

sowat 21 koekies

• 125 g botter
• 100 g (125 ml) strooisuiker
• 150 ml gouestroop
• 5 ml vanieljegeursel
• knippie sout
• 300 g (535 ml) koekmeel, ekstra vir uitrol
• 1 x 100 g-sakkie fyn amandels
• 260 g (500 ml) versiersuiker
• 2 eierwitte, liggies geklits
• blou en geel voedselkleursel

Verhit oond tot 180 °C. Plaas botter, suiker, stroop en vanielje in ’n middelslag-mengbak en klits tot lig en romerig. Voeg sout, meel en amandels by. Meng saam tot ’n sagte koekiedeeg. Draai toe in kleefplastiek en laat rus in yskas vir 25 minute. Strooi ’n dun lagie meel op die werkoppervlak. Rol koue deeg uit tot sowat 5 mm dik. Gebruik koekiedrukker met ’n roomysvorm en druk roomysvorms uit. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei. Plaas koekies op bakplaat. Bak vir 12 – 15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel. Meng versiersuiker en eierwit tot ’n stywe pasta. Verdeel in twee en kleur een helfte blou en ander helfte geel met ’n paar druppels voedselkleursel. Gebruik ’n spuitsak met ’n 1 mm-tuit en versier die horinkie-deel geel en die boonste deel blou. Laat staan vir 1 uur of tot droog en hard. Pak in.