sk07uitmytuin01a
Resepte

Sampioene met kruiebotter

(6 porsies)

  • 6 – 10 groot, plat bruin sampioene
  • 5 ml vars koljandersaad
  • 4 knoffelhuisies
  • vuis vol platblaarpietersielie
  • klein takkie wildevinkel
  • paar vars basiliekruidblare
  • takkie vars tiemieblare, of 5 ml droë tiemie
  • takkie vars marjoleinblare, of 5 ml droë marjolein
  • 5 – 10 vars grasuie
  • 3 vars sprietuie
  • 350 g botter
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Smeer ‘n plat oondbak met botter of olyfolie. Plaas skoon, droë sampioene steelkant na bo in die bak. Skroei koljandersaad vir 3 minute in ‘n droë pannetjie tot effens bruin. Maal fyn in ‘n vysel. Kap knoffel fyn saam met al die vars kruie, koljandersaad en uie. Meng met botter en geur met sout en swartpeper. Verdeel die bottermengsel tussen die sampioene en skep teelepels vol op elkeen. Moenie smeer nie – die sampioene sal breek. Bak die sampioene teen 180 °C tot die bottermengsel gesmelt en die sampioene sag maar nog heel is. Sit dit warm saam met vars brood voor om in die sous te doop.