sr0907kos_1_
Resepte

SARIE-verjaardagkoek

Sjokolade-framboos-roomkoek

  • 1 vel (400 g) blaardeeg
  • 4 eiers, geskei
  • 2 eiergele
  • 100 g (120 ml) strooisuiker
  • 80 g (140 ml) koekmeel
  • 25 g (52 ml) mielieblom
  • 35 g (90 ml) kakao
  • 30 ml brandewyn (opsioneel)

Verhit jou oond tot 220 ºC. Sny ’n sirkel van so 23 cm groot uit die blaardeeg. Plaas sirkel op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Prik deeg goed met ’n vurk. Sit in warm oond en bak vir sowat 30 minute tot gaar, bros en goudbruin. Haal uit en laat afkoel. Voer ’n diep bakplaat van sowat 25 x 30 cm met bakpapier uit. Smeer met gesmelte botter of spuit pan met kleefwerende kossproei. Klits die 6 eiergele met helfte van die strooisuiker tot lig en romerig. Klits eierwitte styf en klits orige suiker by. Vou styfgeklopte eierwitte by die eiergeelmengsel. Sif meel, mielieblom en kakao saam. Vou gesifte droë bestanddele versigtig in die eiermengsel in met ’n metaallepel. Gooi mengsel in die uitgevoerde bakplaat en smeer eweredig. Plaas in warm oond en bak vir 10 – 12 minute. Maak seker jou oondrak is op die middelste posisie. Haal uit en keer op ’n stuk bakpapier uit. As jy die brandewyn gaan gebruik, sprinkel dit nou oor die warm koek en maak onmiddellik toe met ’n klam afdrooglap. Laat afkoel. Maak nou die vulsel.

Vulsel

  • 400 g bevrore frambose
  • 15 g gelatien
  • 45 ml water
  • 500 ml room
  • 70 g (120 ml) versiersuiker, gesif

Laat frambose ontdooi en plaas in ’n sif. Laat sap dreineer. Week gelatien in die water. Plaas die bakkie met gelatien bo-op ’n bakkie met kookwater en laat smelt. Klits room styf en klits die versiersuiker by. Vou die gelatien en frambose in.
Sit die koek só aanmekaar: Plaas die blaardeeg-sirkel op jou opdienbord. Sny die rande reg rondom die sjokoladekoek af. Sny die koek in die lengte in 3 lang stroke. Smeer een met die vulsel – die vulsel moet minstens 1 cm dik wees. Rol die strook op. Van die vulsel sal effens uitloop, maar dis reg. (Dis soos wanneer jy ’n rolkoek oprol.) As die koek kraak of breek, gaan net voort. Plaas sirkel in die middel van die deeg-sirkel. Smeer die tweede strook ook dik met die vulsel. Plaas dit om die middelste sirkel. Die ente van die strook gaan nie bymekaar uitkom nie, dis hoekom jy die derde strook het. Smeer derde strook met die vulsel en voltooi die sirkel. Vul die opening met nog vulsel. Dit moet nou ’n ronde koek bo-op die deeg vorm. Maak kante van die koek toe met tinfoelie en met kleefplastiek bo-op. Plaas in die yskas vir minstens 3 uur of oornag. Die gelatien sal stol.
Versier die koek só:

Versiersel

  • 500 ml room
  • 30 ml versiersuiker, gesif
  • 100 g donkersjokolade
  • blare (roosblare werk goed)
  • eetbare blinkers (glitter)

Klits room styf en klits gesifte versiersuiker by. Smeer koek reg rondom lekker dik met die room. Smelt sjokolade in ’n bak oor warm water. Smeer elke blaar met sjokolade en plaas op bakpapier. Laat sjokolade heeltemal hard word en trek dan die blare versigtig van die harde sjokolade af. Rangskik die sjokoladeblare bo-op die koek en besprinkel met eetbare blinkers.

WENK
As die sjokoladeblare vir jou te veel moeite is, kan jy die koek met sjokolade-krulle of bevrore frambose versier. (Smeer gesmelte sjokolade op ’n stuk bakpapier en laat hard word. Gebruik ’n skerp mes en trek dit oor die sjokolade om krulle te vorm.)