Resepte

Sjokolade-semifreddo-cones

(12 cones)

  • 100 g donkersjokolade
  • 12 sugar cones
  • 3 eiers
  • 2 eiergele
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 200 g (240 ml) strooisuiker
  • 200 g donkersjokolade
  • 500 ml room
  • 2 KitKat-sjokolades, in stukke gebreek
  • 100 g witsjokolade, in stukke gebreek

Breek 100 g donkersjokolade in stukke en sit dit in ‘n bakkie. Plaas bakkie oor ‘n kastrol met warm water (wat nie aan bakkie raak nie). Roer nou en dan tot gesmelt. Gebruik ‘n kwassie en verf binnekante van cones met gesmelte sjokolade. Laat hard word. Plaas eiers, eiergele, geursel en strooisuiker in ‘n bak wat oor ‘n kastrol met kookwater pas. Klits mengsel (verkieslik met elektriese handklitser) in bak oor kookwater tot dik en lig van kleur. Haal bak van kastrol af en laat effens afkoel. Smelt 200 g sjokolade soos bo beskryf. Klop room styf en vou goed in eiermengsel in. Vou gesmelte sjokolade in. Sny ronde gate in ‘n omgedraaide skoenboks sodat cones daarin kan staan in vrieskas. Skep meeste van die semifreddo in cones en laat staan in die skoenboks. Plaas in jou vrieskas. Meng gebreekte KitKat met orige semifreddo en gooi in ‘n bak wat in vrieskas kan gaan. Bevries vir ten minste 6 uur, verkieslik oornag. Smelt witsjokolade oor warm water. Skep gesmelte witsjokolade in papier-spuitsak. Spuit sirkels op bakpapier. Spuit heen en weer dwarsoor sirkels – sien foto. Laat hard
word. Wanneer semifreddo gevries is, skep van die KitKat-roomys bo-op cones en plaas ‘n witsjokoladesirkel bo-op.