sr1205_koshoof_9_
Resepte

Sjokolade-tertjies

(6 porsies)

Kors

  • 500 ml koekmeel
  • 155 g botter
  • 60 ml strooisuiker
  • 30 ml water

Vulsel

  • 250 ml room
  • 100 g donkersjokolade, grofgekap
  • 100 g witsjokolade, grofgekap
  • 125 g bessies van jou keuse
  • 60 ml kakaopoeier

Kors Verhit oond tot 180 ˚C.

Plaas meel, botter en suiker in voedselverwerker en meng tot tekstuur van growwe broodkrummels. Gooi water by en verwerk tot deeg bymekaarkom. Draai toe in kleefplastiek en sit in yskas vir 20 minute.

Rol koue deeg tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Spuit 6 holtes van ’n standaardgroot muffinpan met kleefwerende kossproei. Voer holtes met deeg uit en sny kante netjies af. Laat vir 20 minute in yskas rus. Bak blind vir 8 minute (sien wenk onder).

Verwyder bone en bak verder vir nog 5 – 8 minute of tot goudbruin en gaar.

Vulsel

Verhit room tot kookpunt en gooi helfte oor donkersjokolade en res oor witsjokolade. Roer tot gesmelt. Verdeel donkersjokolade tussen gaar tertdoppies. Skep witsjokolade bo-op. Roer met lepel sodat sjokolade halfpad meng. Laat stol in yskas vir 2 uur.

Sit bessies bo-op en sif kakao oor.

Sit voor.

Wenk

Blind bak beteken jy voer die deeg met bakpapier uit en vul die bodem met rou rys of bone. Dit word halfpad deur die bakproses verwyder.

Die tertdoppies word dan verder gebak met vulsel binne-in of leeg soos hierbo.