Resepte

Skelvis-en-lensiesop

(6 porsies)

  • 2 preie, goed gewas en in dun skyfies gesny
  • 30 ml olyfolie
  • 2 vet knoffelhuisies, gekneus, geskil en fyngemaak
  • 1 vinkelknol, gewas en gekap
  • 500 ml vis- of hoenderaftreksel
  • 500 ml room
  • 250 g skelvis, vel verwyder en in blokkies gesny
  • 250 ml gaar bruin lensies
  • sout en varsgemaalde peper na smaak
  • 5 ml gerookte paprika
  • 50 – 125 ml whiskey
  • gesnipperde grasuie

Braai preie in olie in ‘n groot kastrol oor lae hitte totdat preie sag is. Roer knoffel en vinkel by en roerbraai 2 – 3 minute lank. Voeg aftreksel by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte na matig en prut totdat die mengsel sag is. Roer helfte van die room by, verhit tot kookpunt en kook 3 minute lank. Laat effens afkoel. Verpulp mengsel in ‘n voedselverwerker tot glad. Vryf deur ‘n sif in ‘n skoon kastrol. Voeg res van die room by, verhit tot kookpunt en kook totdat die mengsel net begin verdik. Voeg skelvis by, verhit tot kookpunt, verlaag hitte na laag en prut 1 – 2 minute lank totdat die visblokkies net gaar is. Voeg lensies by en laat deurwarmword. Proe en geur met sout en peper na smaak. Pasop vir te veel sout. Roer paprika by. Nou die whiskey – na smaak! Hou warm. Skep in warm sopbakkies en strooi die grasuie oor. Sit voor met lekker brood.