Resepte

Spaghetti bolognese (Italië)

Ek weet nie van ’n kind wat nie van spaghetti bolognese hou nie. (Onthou, ’n goeie bolognese moet minstens 2 – 3 uur stadig prut.)

(4 – 6 porsies)

  • 100 g ham, in blokkies gesny
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 1 wortel, fyngekap
  • 1 selderystok, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml botter
  • 30 ml olyfolie
  • 400 g beesmaalvleis
  • 400 g varkmaalvleis
  • 250 ml witwyn
  • 500 ml beesvleisaftreksel
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 50 g (1 pakkie) tamatiepasta
  • 1 ml fyn neut
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 250 ml room
  • 1 pak (500 g) spaghetti
  • gerasperde parmesaankaas

Meng die ham, ui, wortel en seldery saam en kap nog fyner, of kap verder fyn in jou voedselverwerker. (Die mengsel moet baie fyngekap wees.) Smelt die botter in ’n swaarboomkastrol. Braai die hammengsel oor ’n lae hitte vir sowat 10 minute. Haal die mengsel uit die kastrol. Verhit nou die olyfolie in dieselfde kastrol. Braai die bees- en varkmaalvleis totdat dit los is en nie meer pienk nie. Voeg die witwyn by en laat vinnig kook totdat die meeste van die wyn afgekook het. Gooi die ham-mengsel terug in die kastrol saam met die geblikte tamaties, tamatiepasta en aftreksel. Geur met neut, sout en varsgemaalde swartpeper. Verlaag die hitte en maak die kastrol met ’n deksel toe. Laat prut vir minstens 2 uur. Voeg die room by en laat verder oop kook vir 30 minute. Kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pak. Sit die spaghetti bolognese saam met gerasperde parmesaankaas voor.


Om te drink

Terro del Cap Sangiovese of Fairview the Goatfather