Resepte

Steurgarnaalrolletjies op stokkies

24 rolletjies

  • 24 steurgarnale, skoongemaak en doppe verwyder
  • 24 hout-kebabstokkies
  • 45 ml gerookte paprika
  • 12 velle Chinese-rolletjie-deeg (spring roll) (kyk by supermark se bevrore-deeg-afdeling)
  • 1 eier, liggies geklits

Tamatiesous

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 45 ml tamatiepasta
  • 500 g kersietamaties, gehalveer
  • 3 takkies tiemie
  • 60 ml bruinsuiker
  • 100 ml rooiwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • sonneblomolie vir diepbraai

Ryg garnale op houtstokkies, stertkant eerste. Sprinkel paprika oor. Sny deegvierkante in helfte. Sit elke garnaal so 1 cm van die onderpunt van ’n deeghelfte sodat die stokkie na links uitsteek. Vou lang kant van deeg van regs oor garnaal (sowat 1 cm) en rol van onder af stewig op.Verf punt met geklitste eier en druk stewig vas.

Tamatiesous

Verhit olyfolie in middelslag-pot tot warm. Voeg ui en knoffel by. Roerbraai vir 5 – 8 minute of tot begin verbruin. Voeg tamatiepasta by en braai nog 2 minute.Voeg tamaties, tiemie, suiker en rooiwyn by. Verlaag hitte en laat prut vir 20 – 25 minute of tot daar ’n lekker dik, geurige sous is. Geur goed met sout en peper.Verhit sonneblomolie in groot pot tot warm. Plaas kebabs in olie en diepbraai vir 5 – 6 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Sit warm voor met tamatiesous.