sk08_4suurlemoene01
Resepte

Suurlemoen-meringuetertjies

Dit bly darem ’n klassieke tert, ’n goue gunsteling! Ek gee twee deegresepte – die tweede een is ’n bietjie vinniger.

(6 tertjies so groot soos 10 cm muffinpannetjies, of een so groot soos ’n 23 cm-losboompan)

Deeg

  • 225 g (400 ml) koekmeel
  • 2 ml bakpoeier
  • 50 g (60 ml) strooisuiker
  • 30 ml botter
  • 1 eiergeel
  • 60 ml melk

Sif die meel en bakpoeier saam. Voeg die strooisuiker by. Vryf die botter in die meel-en-suiker-mengsel tot dit soos broodkrummels lyk. Klits die eiergeel en melk saam en voeg by die droë bestanddele. Meng tot ’n sagte deeg. Maak toe met kleefplastiek en laat rus vir ’n uur in die yskas. Verhit jou oond tot 200 °C. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk ses sirkels, groot genoeg vir jou pannetjies, met ’n koekiedrukker daaruit en voer ses groot muffinpannetjies (so 10 cm in deursnee) met die deeg (of voer jou losboompan met al die deeg). Plaas ’n stuk waspapier in elke pannetjie en vul met droë boontjies (jy gaan die deeg blind bak). Bak vir 20 minute. Haal uit en verwyder die papier en boontjies.

Of probeer hierdie maklike, vinnige deeg

  • 500 g tennisbeskuitjies
  • 140 g (150 ml) botter, gesmelt

Maak die beskuitjies fyn in jou voedselverwerker. Voeg die gesmelte botter by en meng goed. Druk die mengsel in jou losboompan of muffinpannetjies. Volg die res van die resep vir die vulsel.

Vulsel en meringue

  • 4 blikkies kondensmelk
  • 400 ml suurlemoensap
  • 8 eiers, geskei
  • 100 g (120 ml) strooisuiker

Stel jou oond op 160 °C. Klits die kondensmelk, suurlemoensap en eiergele saam. Giet die mengsel in die klaargebakte tertbakkies. Bak vir 30 minute. Haal uit die oond en laat effens afkoel. Klits die eierwitte styf en voeg terselfdertyd die strooisuiker lepel vir lepel by, tot die meringue sagte punte vorm. Stel jou oond op 120 °C. Spuit of skep die meringue bo-op die tertjies en bak hulle vir ’n uur. Haal uit en laat afkoel voor jy die tertjies voorsit.