skm1005pot5
Resepte

Tarentaal au pinot noir

Wilde tarentaal gekook met pinot noir van Hemel-en-Aarde se wêreld herinner aan Boergondië. Dis ‘n eenvoudige Franse gereg waarvan die hoender vervang word met tarentaal – en daar is letterlik duisende tarentale met hul kruiwawiel-skreeugeluide in die Hemel-en-Aarde-omgewing. La Vierge is geskep om hoofsaaklik pinot noir-wyne te maak, omdat die streek by uitstek
geskik is vir dié druifsoort en om pinot noir-wyne van wêreldgehalte te lewer.

(4 porsies)

  • 4 tarentaal-borsies (kalkoen kan ook werk as jy nie jag nie)
  • ‘n bottel La Vierge Noir Pinot Noir 2009 as marinade
  • olie na goeddunke
  • soveel gekapte knoffelhuisies as waarmee jou huisgenote gemaklik voel
  • 15ml meel
  • ‘n skeut brandewyn
  • 500ml hoender-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 6 kleinerige, heel aartappels, geskil
  • 4 lang en sappige wortels, opgesny
  • sowat 6 klein uitjies, geskil
  • 250g sampioene van jou keuse
  • 1 hand vol granaatpitte, om te garneer
  • kapok-aartappels, apart gekook

Marineer die borsies oornag in wyn. Braai in olie op die kole tot bruin. Neem van die kole weg. Voeg knoffel by vleis. Braai dan rustig. Voeg meel by en roer deur. Voeg brandewyn by en steek die hele spul aan die brand. Voeg hoender-aftreksel by, asook wynmarinade na goeddunke. Geur met sout en peper. Kook stadig met so 3 stewige kole vir 2 – 3 uur. Hou dop vir as die kole
stoom verloor en sit nuwes by. Voeg aartappels by en ná ‘n halfuur wortels en uitjies. Haal ná 3 – 4 uur van hitte af en voeg sampioene by. Garneer met granaatpitte en skep op kapok-aartappels.