Resepte

Thai-hoenderpot

‘n Paar jaar gelede, net nadat Charlize Theron haar Oscar gewen het, het vriende met familiebande op Vanwyksdorp in die Klein-Karoo my genooi sodat ek ‘n pot kan kook vir ‘n kompetisie ter viering van die plaaslike NG kerkgebou se eeufees. Die “Annemarie”-sanger Gerrie Pretorius het daai dag en aand alles gedoen: gesing, gekoer, vermaak, opgeveil en beoordeel. Hy en sy mede-beoordelaars het ons Thaihoenderpot as wenner aangewys, bes moontlik omdat dit vreemd eksoties in ‘n vergete deel van die Klein-Karoo groen kon gloei in die lig van ‘n glaslamp. My wennerstoespraak is met onbegrip en ongeloof begroet toe ek in ‘n Yank-aksent aankondig: “I once lived on a farm in Africa …” – terwyl my kookgenoot stil-stil die nag in glip, berekend onwillig om die kollig te deel.

(4 porsies)

  • 4 hoenderdye (van ‘n werfhoender, natuurlik, ons eet nie meer battery-bondeltjies nie), verkieslik sonder vel
  • olie na goeddunke
  • gekapte of gerasperde knoffel na smaak
  • ‘n kinderhand vol groen brandrissies, gekap en pitte verwyder
  • ‘n paar vingers vol borrie
  • ‘n paar vars gemmer-tone, gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na goeddunke
  • 500ml klappermelk, vars uit die neut, of kroek met ‘n blikkie as jy moet
  • 4 patats, in wiele gesny
  • 4 klein uie, heel
  • 8 miniatuur-vinkelbolle, in stukke gesny
  • 1 mango, in skywe gesny (vir kleur en soetigheid by rissies)
  • 2 hande vol bok choi-blare (Chinese kool)
  • 1 bos vars koljander vir garnering
  • basmati-rys, apart gekook

Braai die dye in olie oor matige tot hoë hitte tot ligbruin. Neem die kole of vlamme weg onder die pot, voeg knoffel, brandrissies, borrie en gemmer by en braai tot glaserig. Geur met sout en swartpeper. Voeg die klappermelk by, bring tot kookpunt, voeg patats en uie by en kook stadig vir 30 – 45 minute. Verwyder pot van die kole, voeg vinkel en mango-skywe by en laat staan vir 15 minute. Roer die bok choi-blare deur net voordat jy dit voorsit. Garneer met vars koljandertakkies op die bord en sit voor met basmati-rys.