Annel Botha

Resepte

Toegeskroeide carpaccio bruschetta

Hoe maak jy ‘n bruschetta?

  1. Sny brood in snye van ongeveer 2 cm dik.
  2. Maak ’n riffelpan baie warm op ’n plaat en sit een sny brood in die pan en druk dit effens plat met ’n eierspaan.
  3. Draai om en rooster aan die ander kant.
  4. Lig uit die pan, en moenie bekommerd wees as die rante effens gebrand is nie.
  5. Sny ’n knoffelhuisie in die helfte en vryf oor die sny brood.
  6. Gooi heelwat olyfolie oor.

 

Toegeskroeide carpaccio bruschetta
Met ’n 500g biefstuk (sirloin) kan jy ver kom. Meng 20ml korrelmosterd, die sap van 1 suurlemoen en 2 varsknoffelhuisies fyngedruk saam. Smeer dit aan weerskante van die biefstuk en laat dit staan vir sowat ’n halfuur. Maak ’n swaarboompan of riffelpan goed warm – die rook moet uit die pan trek. Jy gaan nou letterlik die vleis toeskroei aan weerskante – plaas die biefstuk vir sowat 3 minute aan ’n kant in die warm pan. Haal uit en laat rus vir sowat 10 minute voordat jy dit sny. Die vleis moet nog lekker rou aan die binnekant wees. Sny dit in dun skywe, plaas dit op ’n bord en sprinkel olyfolie oor. Geur dit met sout en peper. Sit ’n handvol vars bronkors en so 3 skywe biefstuk op die bruschetta. Plaas dun skywe parmesaan- of pecorino-kaas bo-op en nog olyfolie en peper.