Resepte

Tortano – Italiaanse aartappelbrood

(2 brode)

  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 250 ml louwarm water
  • 100 g (180 ml) koekmeel
  • 170 g aartappel, gekook tot sag en fyngedruk
  • 575 g (1 025 ml) broodmeel
  • 420 ml water
  • 45 ml heuning
  • 15 g (15 ml) sout

Plaas gis, louwarmwater en koekmeel in middelslag-mengbak. Roer met houtlepel tot goed gemeng. Sit 6 uur of oornag in yskas om te rys.

Plaas gismengsel, fyngedrukte aartappels, broodmeel, water, heuning en sout in bak van elektriese menger.

Knie op hoë spoed vir 10 – 12 minute of tot deeg in een bal saamkom. Plaas deeg in bak wat met olie gesmeer is en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 2 – 4 uur. Knie die brood af en laat weer rys vir 20 minute.Herhaal proses nog 3 keer.

Vorm deeg in groot ronde bal en sit op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Druk effens plat en maak met jou vinger ’n gaatjie in die middel van die brood. Rek die gat groter tot sowat 10 cm in deursnee. Sif dun lagie meel oor brood en laat rys vir nog 25 – 30 minute of tot dubbel die volume.

Terwyl brood rys, verhit oond tot 220 °C. Gebruik ’n skerp mes en maak 4 snye bo-op brood.

Bak vir 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar.

Wenk

Dis ’n baie sagte deeg. Doop jou hande in koekmeel voor jy die deeg hanteer en keer so dat dit aan jou hande vassit.

  • Trudi Hamilton

    Ek het oor Kersfees die Tortano brood gemaak en glo daar moet ‘n fout wees met die hoeveelheid water wat na die oornag rys bygevoeg moet word. Ek bak baie brood en was verbaas dat 420ml water by 575g meel gevoeg kan word. Nietemin, het ek soveel van die water bygevoeg as wat ek kan, aangesien dit na ‘n sagte deeg gelyk het, maar moes by ongeveer 200ml stop, anders was daar net vloeistof! Die deeg was haas onbewerkbaar tussen rys-periodes, maar ek het deurgedruk en die resultaat was fantasties! Die brood het vir 4 dae vars gebly.