Resepte

Una Erasmus (naaswenner) van Parys se ‘Uithaler’-melktertresep

Uithaler-melktert
(genoeg vir 3 terte)

Werk op ‘n koel plek as jy die skilferkors maak. Die kors kan gevries word.

Skilferkors

  • 5 ml kremetart
  • 3 en ¾ koppie (940 g) koekmeel, 3 keer gesif en afgemeet
  • 450 g koue botter, in 4 dele gesny
  • knippie sout
  • ¾ koppie (190 ml) yswater
  • 1 eiergeel, geklits
  • 15 ml asyn

Meng die kremetart met ‘n ¾ koppie van die gesifte meel en hou apart. Neem een kwart van die botter en rasper dit in die res van die meel in, saam met die sout. Vryf die botter liggies in en maak  die deeg verder met die yswater, eiergeel en asyn aan. Dit moet soos ertjiekorrels lyk. Rol die deeg 1 keer liggies uit en vorm ‘n bal (of gooi eers die deeg en rol dan uit). Gooi die deeg 150 keer op die blad van ‘n tafel. Strooi meel op die tafel as dit wil vassit. Laat rus die deeg vir 15 minute by kamertemperatuur. Rol die deeg ‘n tweede keer uit en besprinkel jou werksoppervlak met die kremetart-meelmengsel soos nodig. Rasper ‘n tweede kwart van die botter op tweederdes van die uitgerolde deeg en vou in 3 (die vou moet altyd aan jou regterkant wees). Verseël die kante met jou koekroller. Rol die deeg weer uit en laat rus weer vir 15 minute. Herhaal die proses met die twee uitstaande kwarte botter. Voer tertborde met die deeg uit.  

Vulsel

  • 1,5 liter melk
  • 2 stukke pypkaneel
  • 125 g botter
  • 30 ml mielieblom
  • 30 ml meelblom
  • 15 ml vlapoeier
  • 2 (rondvol) eetlepels mielieblom
  • 130 ml suiker
  • 9 eiers, geskei
  • 15 ml vanieljegeursel

Bring 1,25 liter melk en die kaneel tot kookpunt in ‘n groot kastrol. Meng die droë bestanddele met die oorblywende melk tot ‘n gladde pasta.  Klop die eiergele by en roer dit by die warm melk in. Verwyder van die hitte of plaas terug op lae hitte en roer totdat die mengsel verdik (die pap moenie weer kook nie). Klop die eierwitte styf en vou dit saam met die vanieljegeursel by die papmengsel in. Die eiers se grootte kan ‘n verskil maak, hou maar altyd ‘n kwartkoppie van die warm melk uit om later by te voeg of weg te laat (melktertpap moet nooit styf wees nie).

Skep die vulsel in die korse en bak vir 5 minute op 260 °C en 15 minute by 200 °C. Laat die melktert in die oond afkoel, dan sal die vulsel nie sak nie.

Wenk! Plaas ‘n stuk bruinpapier bo-op die tert as dit te bruin word.