Resepte

Vetkoek-pizza

(jy kry so 5 pizzas van 12 cm uit)

Jy benodig

  • 1 hoeveelheid pizza-deeg (sien verwante artikels)
  • sowat 100 ml sonneblomolie
  • tamatiesous (hoeveelheid 1)
  • 150 g sagte mozzarella-kaasballetjies
  • sowat 20 groen olywe, ontpit
  • hand vol vars basiliekruidblare, grofgebreek
  • varsgemaalde swartpeper na smaak

Volg die resep vir die deeg. Verhit oond tot 240 ºC. Verdeel deeg in 5 of 6 stukke en rol of vorm met jou hande in sirkels. Verhit sonneblomolie in ’n pan. Die olie moet warm wees, maar nie kokend nie (jy wil die deeg braai tot mooi goudbruin en nie laat aanbrand nie). Braai die pizzadeegsirkels vir sowat 2 minute aan weerskante. Dis nou dat jy die gevoel en reuk van vetkoek kry! Dreineer op kombuispapier. Plaas gebraaide pizza-basisse op ’n bakplaat en smeer tamatiesous bo-op. Breek mozzarellakaasballetjies daaroor. Rangskik olywe bo-op en sprinkel gebreekte basiliekruidblare oor. Plaas in warm oond en bak vir sowat 10 – 12 minute. Haal uit en geur met swartpeper.