sk07vrugtekoek01a
Gebak

Vrugtekoek

  • 1250 g gemengde droëvrugte
  • 250 g dadels, fyngekap
  • 75 g rooi glanskersies
  • 150 g heel, gepelde amandels
  • 500 ml brandewyn
  • 250 g koekmeel
  • 2,5 ml sout
  • 2,5 ml koeksoda
  • 12,5 ml kakao
  • 2,5 ml gemengde speserye
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml fyn gemmer
  • 1 ml fyn neutmuskaat
  • 250 g botter
  • 250 g suiker
  • 4 eiers

Meng al die vrugte en amandels en gooi 250 ml brandewyn oor. Bedek met kleefplastiek en laat staan oornag. Sif die droë bestanddele, behalwe die suiker, saam. Room die botter en suiker saam tot lig van kleur. Voeg die eiers een vir een by. As dit wil skif, gooi van die meel by. Jy kan dit alles met ‘n elektriese menger aanmaak. Voeg nou al die meel by en meng goed. Die mengsel moet taamlik styf wees, anders sal die vrugte afsak. Sit nou die botter en – meelmengsel by die vrugte. Dit sal lyk asof die vrugte te veel vir die deeg gaan wees, maar moenie bekommerd wees nie – dis reg. Ek gebruik my hande om die vrugte goed deur te werk, omdat dit baie moeilik is om die vrugte met ’n lepel deur die deeg te roer. Skep die mengsel in ‘n uitgevoerde koekpan en bak vir 4-5 uur in ‘n matige oond teen 150 °C. Toets met ‘n dun pennetjie. Wanneer hy droog uitkom, is die vrugtekoek reg. Gooi nou die res van die brandewyn oor en laat dit in die pan afkoel. Versier jou vrugtekoek met rooi glanskersies.

Wat kan ek saam met vrugtekoek eet?

  • Bloukaas en port. Veral Boplaas se Tawny Port pas heerlik by bloukaas. Omdat die portwyn gefortifiseer is (m.a.w. daar is alkohol bygevoeg), kan dit die sterk geure in die bloukaas baasraak.
  • Ingelegde groenvye en mascarpone-kaas gaan goed saam as jy vrugtekoek as nagereg wil bedien.
  • Maak ‘n stuk vrugtekoek warm en bedien roomys, room of vla daarby.

Voer die pan só uit:
Die mengsel is vir ‘n koekpan van 25 cm x 8 cm. Jy kan ’n kleiner pan (20 cm) ook gebruik.

Stap 1:

Voer die onderkant van die koekpan met 6 lae koerantpapier uit.

Stap 2:

Sit ‘n dubbele laag bruinpapier aan die binnekant van die pan. Die papier moet so 6 cm hoër as die pan wees.

Stap 3:

Sit nou ‘n dubbele laag bruinpapier bo-op die koerantpapier onder in die pan. Smeer of spuit die bruinpapier  goed.

Stap 4:

Sit sowat 4 velle koerantpapier buite om die koekpan en maak met  tou vas.

Stap 5:

Maak nou ‘n deksel van nog lae koerantpapier. Omdat die koek so lank in die oond is, keer die deksel dat die koek baie bruin word bo-op.