Resepte

Wen-bobotie (Frans Kleingeld se resep)

Ek het my lewe lank al ‘n passie vir kos en is op die oomblik besig om my eie resepteboek te skryf, so kyk uit daarvoor! Ek glo ‘n mens moet die basiese goed altyd dieselfde hou en nie probeer om die wiel weer uit te vind nie. Jy kan byvoorbeeld nie gerookte salm sonder kappertjiesaad en roomkaas voorsit nie, want die kombinasie werk net perfek. Dieselfde geld bobotie – jy kan nie bobotie sonder rosyntjies en amandels maak nie, want dan doen jy nie eer aan ons voorouers nie.

My resep is ‘n kombinasie van verskillende resepte, met my eie idees daarby. Die feit dat dit in ‘n waterbad gebak word, sorg dat dit sappig en nie droog is nie, met ‘n lekker tekstuur wat nie verbrokkel wanneer dit gesny word nie. Ek het al dié bobotie vir oorsese gaste wat nog nooit bobotie geëet het nie, voorgesit. Hulle het vir tweede en derde porsies gevra. Ek hoop almal wat dit eet, geniet dit net soveel soos ek en my gaste.

Dankie vir SARIE KOS – maar nou moet ek vir almal by die werk bobotie maak!”

Frans Kleingeld se wen-bobotie

6 – 8 porsies

  • 2 dik snye bruinbrood
  • 375 ml melk
  • 25 ml olyfolie
  • 10 ml botter
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 30 ml kerriepoeier
  • 15 ml appelkooskonfyt
  • 30 ml blatjang
  • 25 ml bruin asyn
  • 5 ml suurlemoensap
  • 15 ml Worcestersous
  • 15 ml borrie
  • 1 kg maer beesmaalvleis
  • 100 ml ontpitte rosyntjies
  • 100 ml amandel-splinters
  • 10 ml sout
  • 3 eiers
  • 8 klein lourierblare of suurlemoen-blare

Verhit oond tot 180 °C. Breek brood in stukkies en week dit in die melk. Verhit olie en botter in ‘n pan en braai uie en knoffel saam tot sag en deurskynend. Voeg kerriepoeier en konfyt by en meng goed. Voeg blatjang, asyn, suurlemoensap, Worcestersous en helfte van borrie by. Druk melk uit brood, voeg brood by uie-mengsel en meng goed. Hou oorblywende melk eenkant. Voeg maalvleis, rosyntjies, amandel-splinters en sout by.

Meng goed en braai oor lae hitte totdat die vleis net begin verkleur. Verwyder van stoof. Klits een eier en meng met maalvleismengsel. Giet in vuurvaste, gesmeerde bak. Rangskik lourier- of suurlemoen-blare bo-op bobotie en druk ‘n bietjie vas. Klits twee eiers met die oorblywende borrie en melk. Giet stadig oor bobotie. Plaas bak in oondpan. Giet water om bak in oondpan tot sowat twee derdes vol. Bak vir 1 uur. Sit voor met rosyntjiegeelrys.

  • Charlet

    Frans, dit is nou ‘n bielie van ‘n resep! Ek het so ‘n paar druppels amandel-ekstrak by die eiermelk gegooi en dit was heerlik! Baie dankie dat jy die resep met ons gedeel het.

  • Lindie Kolver

    Wel Frans – dat ek darem wraggies eers in Oz moes kom bly voordat ek ‘n lekker Bobotie kon maak !!Hierdie is ‘n bo-baas resep.Dis heerlik saam met
    pampoenpoffertjies en karamelsous en dan natuurlik , die geelrys en rosyne.
    Baie dankie vir die deel van jou resep !

  • Amanda Coetzer

    Hi Frans

    I love our proudly South African food tradition and your bobotie recipe is at the top of the list in this category. It’s excellent.

  • Rynette van Vuuren

    Kan ons asseblief die naas wenner en 3de wenner se resepte ook kry vir hulle bobotie?

  • Thomas

    Ik heb dit recept op mijn verjaardag gemaakt voor een groep vrienden. Iedereen vond het ‘baie lekker’! Heel veel groeten uit Amsterdam!

  • Elize van Heerden

    My dogter is ‘n student by die universiteit van die Vrrystaat en sy het ‘n Amerikaanse kamermaat gehad. Toe sy haar een naweek huistoe gebring het, het ek die bobotie gemaak en sy is met die resep terug Amerika toe. Die naweek is hier weer twee Franse studente met haar en hulle komentaar was dat hulle t al in twee restaurante bobotie geeet het en glad nie beindruk was nie, en nou wil hulle ook die resep hê. Die enigste probleem is dat ek dit met my Vrystaat Engels elke keer vir hulle moet vertaal! Kan julle dalk help.