Yskas-soufflé
Resepte

Yskas-soufflé

Dié een sal nooit platval nie! En dit lyk baie deftig.

(6 – 8 porsies)

  • 15 ml gelatien
  • 30 ml water
  • 125 ml room
  • 100 ml vanielje-jogurt
  • 175 g dulce de leche-karamel, of geblikte karamelkondensmelk wat gesmelt is
  • sap en skil van 1 suurlemoen
  • 130 g suiker
  • 80 ml water
  • 2 eierwitte

Sny agt stukke bakpapier wat lank genoeg is om drie keer om ’n 150 ml glas te gaan. Die papier moet sowat 3 cm bo die rand van die glas uitsteek. Bind stewig vas met kombuistou. Week gelatien in 30 ml water tot sag en sponserig. Plaas room in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Voeg sagte gelatien by.Verwyder van hitte en roer tot gesmelt. Plaas jogurt, dulce de leche, gelatienmengsel en sap en skil van suurlemoen in ’n middelslag-mengbak en meng goed met ’n draadklitser. Sit suiker en 80 ml water in ’n kastrol. Roer tot gesmelt en bring tot kookpunt by hoë hitte. Plaas intussen die eierwitte in ’n glasmengbak en klits tot sagte punte vorm.Gooi warm suikerstroop stadig by terwyl jy klits. Hou aan klits tot mengsel koud is. Vou eiermengsel by jogurtmengsel in en gooi in voorbereide glase.Die mengsel moet tot sowat 2 cm bo die rand van die glas kom. Sit vir 2 – 4 uur in yskas om te stol. Verwyder papier en sit voor.