Bessie-omeletsoufflé

Deur Barbara Joubert, SARIE KOS - Herfs 2008

Bessie-omeletsoufflé Foto’s: Micky Hoyle Galery

Dis een van die eerste soort soufflés wat ek leer maak het. Jy kan natuurlik enige ander vulsel kies. Verdeel een omelet tussen 2 mense.

(2 porsies)

  • 250 g vars of bevrore bessies
  • 15 ml strooisuiker
  • 3 eiers, geskei
  • 30 ml crème fraîche
  • 1 ml vanieljegeursel
  • 30 g (35 ml) strooisuiker
  • 1 eierwit
  • 12,5 ml botter
  • versiersuiker om bo-oor te sif

Meng die bessies met die 15 ml strooisuiker en verhit effens in ’n klein kastrolletjie, net tot die sap van die bessies uitkom. Hou eenkant. Klits die eiergele, crème fraîche, vanieljegeursel en die helfte van die 30 g strooisuiker saam. Klits die 4 eierwitte tot styf, en voeg die orige strooisuiker by. Vou die twee mengsels nou by mekaar in. Smelt die botter in ’n kleefvrye pan. Giet die omeletmengsel in die pan, en roer effens. Voeg die bessies by wanneer die omelet amper gaar is. Maak die pan met ’n deksel toe en laat nog sowat ’n minuut verder bak. Vou die omelet toe. Laat gly versigtig uit op ’n bord en sif versiersuiker bo-oor. Verhit ’n metaal-kebabstokkie tot baie warm - die maklikste is met ’n gasbrander - en plaas onmiddellik bo-op die versiersuiker sodat ’n kruispatroon op die omelet vorm. Sit dadelik voor met vars bessies van jou keuse.

 

Om te drink

’n Dekadente nagereg smag na ’n dekadente wyn. Probeer Blaauwklippen se Zinfandel Noble Late Harvest - dit spog met natuurlike bessiegeure. Salig.

  • Assistent Lynnae Janse van Rensburg

Verwante artikels

  • Donker-sjokolade-lemoen-soufflé

    Donker-sjokolade-lemoen-soufflé

    SARIE - April 2010

    Jy hoef glad nie bang te wees vir dié soufflé nie. Al val dit plat, bly dit ewe lekker.Ek eet soufflé saam met roomys of vars room. Die koue daarvan sal die hitte van die soufflé balanseer.

  • Omelet met gemengde sampioene en hoender

    Omelet met gemengde sampioene en hoender

    Omelette is meer as net ontbytkos. Hier omskep ons dit in ’n wonderlike ligte aandete.