Blini-koekies met gerookte forel

Deur Barbara Joubert, SARIE KOS Feb/Mrt 2012

Blini-koekies met gerookte forel Foto’s: Micky Hoyle Galery

Dis ’n klassieke kombinasie vir ’n voorgereg. Ek verkies gerookte forel, want dis goedkoper as gerookte salm. Jy gebruik 4 blini’s per koekie.

(sowat 40 blini’s – 8 porsies)

Die verrassing
Elke gas gaan dink sy kry ’n klein soet koekie voor die hoofgereg, maar wanneer sy dit oopsny, kom die blini’s met roomkaas en gerookte forel te voorskyn.

Wat is ’n blini?
Dis ’n soort plaatkoekie wat in Rusland ontstaan het. Dit word tradisioneel van bokwiet en suurdeeg gemaak.

  • 1 pakkie (10 g) kits-suurdeeg
  • 125 ml warm water
  • 250 ml melk
  • 210 g (375 ml) koekmeel
  • 3 eiers, geskei
  • 1 ml suiker
  • 1 ml sout
  • 80 g (90 ml) ongesoute botter, gesmelt
  • ekstra botter om blini’s in te braai

Meng suurdeeg en warm water saam in ’n bakkie. Laat staan vir sowat 10 minute. Plaas die melk, meel, eiergele, suiker, sout en gesmelte botter saam in ’n voedselverwerker. Voeg suurdeeg by en meng goed vir 2 minute. Maak voedselverwerker oop en skraap die kante daarvan skoon. Meng weer vir 2 minute. Gooi beslag uit in ’n groot mengbak – groot genoeg dat die beslag ongehinderd kan rys. Maak bak toe met kombuislap en laat staan minstens 1 uur. Wanneer die mengsel goed gerys het, klits die eierwitte styf. Vou eierwitte versigtig in beslag. Smelt nog ‘n bietjie ongesoute botter. Verhit ‘n nie-kleefpan en smeer met ‘n bietjie van die gesmelte botter. Gebruik ‘n groot opskeplepel en skep van die beslag in die pan, so 3 op ‘n slag. Braai oor lae hitte aan die een kant. As daar borrels op die blini begin wys, kan jy dit omdraai en verder braai aan die ander kant. Haal uit en hou eenkant wanneer gaar. Braai res van
blini’s. Moenie die blini’s warm hou nie.

Vulsel

  • 4 houers (230 g elk) roomkaas
  • 30 g grasuie, fyngekap
  • 400 g gerookte forel

Meng een houer roomkaas met fyngekapte grasuie. Plaas ’n blini op werkoppervlak en smeer ‘n lagie gewone roomkaas bo-op. Plaas ‘n stukkie gerookte forel bo-op. Plaas nog een blini bo-op. Smeer van die grasuieroomkaas bo-op. Sit nou weer ’n blini bo-op. Smeer nog gewone roomkaas op en plaas ‘n stuk gerookte forel bo-op. Rond af met ’n blini. Smeer roomkaas om die blini-stapel soos jy ‘n koek sal versier. Jy kan ook ‘n spuitsak gebruik om dit verder te versier. Maak so agt sulke koekies of meer.

Wenk: Jy kan jou blini’s ook oop en een op ’n slag voorsit. Dis hoe dit tradisioneel gedoen is.

  • Skep ‘n eetlepel crème fraîche op elke blini. Sit ‘n stukkie gerookte salm en ‘n teelepel kaviaar bo-op vir spesiale geleenthede.
  • In plaas van die gerookte salm en kaviaar kan jy gestoomde vars aspersies op die crème fraîche sit.
  • Jy kan ook ‘n soet blini maak deur roomkaas boop te skep en dan heuning daarop te drup. Rond dit af met vars aarbeie.
  • Assistent Melissa Pecoraro en Tanya Pohl

Verwante artikels

  • Baklava-samoesas met soet vrugte-blatjang

    Baklava-samoesas met soet vrugte-blatjang

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Om met fillodeeg te werk is makliker as wat jy dalk dink. Volg net die aanwysings.

    Die verrassing: Die baklava lyk soos samoesas wat saam met blatjang voorgesit word, maar dis soet pleks van sout. Maak die soet droëvrugte-compote eerste, want jy sit die koud voor.

  • Hamburger gevul met mozzarella-kaas en gerookte tamatiekonfyt

    Hamburger gevul met mozzarella-kaas en gerookte tamatiekonfyt

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    ’n Lekker hamburger bly lekker, maar wat hierdie een spesiaal maak, is die gerookte tamatiekonfyt bo-op. Die tamatiesmaak is nogal oorheersend, maar saam met die burger werk dit goed.

  • Koue rooi-soetrissiesop

    Koue rooi-soetrissiesop

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Maak dit die oggend voor jou partytjie en hou koud in die yskas.

  • Kuier-fantasie - onthaal jou vriende (+video)

    Kuier-fantasie - onthaal jou vriende (+video)

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Eteklubs en pop-up-restaurante skiet deesdae oral op. Daar’s twee vereistes: goeie kos en ’n tema vir jou ete. Myne is verrassings en fantasie, en vir ekstra vrolikheid het ek ’n paar storieboekkarakters genooi om saam te eet. En ja, die ongewone geregte het ‘Eet my! Drink my!’ uitgeroep soos Alice in Kammaland

  • Napolitaanse semifreddo’s

    Napolitaanse semifreddo’s

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Die lekker van semifreddo maak, is dat jy nie ’n roomysmasjien nodig het nie. Maak dit aan en sit in die vrieskas – so maklik soos dit. Vir dié resep benodig jy 70%-sjokolade. Ek weet dit is duurder as gewone donkersjokolade, maar die kakao-inhoud
    moet 70% wees – dit laat die sjokolade hard word.

  • Pastei-slaai met fetakaas-en waatlemoen

    Pastei-slaai met fetakaas-en waatlemoen

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Die kombinasie van vars, yskoue, soet waatlemoen en sout fetakaas is heerlik – veral op warm dae.

  • Varkvleis-frikkadelle gevul met gepekelde kwarteleiers

    Varkvleis-frikkadelle gevul met gepekelde kwarteleiers

    SARIE KOS Feb/Mrt 2012

    Die kwarteleiers het ’n effense suur smaak wat baie goed werk saam met die varkvleis.

    Die verrassing: Hierdie happie lyk soos sjokolade, maar as jy dit oopmaak, is dit ‘n frikkadel met ’n kwarteleier binne-in.

Kommentaar