Cannelloni
Foto’s: Micky Hoyle Galery
In my spysenieringsdae was dit die gereg wat ek die meeste moes maak. Ek het soos die “cannelloni-koningin” begin voel. Vandag maak ek dit nog gereeld wanneer ek onthaal. Ek maak gewoonlik my eie pasta, maar niks skort met gekoopte cannelloni-buise nie
(10 porsies)
Jy benodig
- pasta-velle of cannelloni-buise
- vulsel-spinasie en ricotta
- 500 ml tamatie-sous (sien verwante artikels)
- roomsous
- 100 g gerasperde parmesaankaas
- 3 eetlepels botter
Pasta
- 250 g meel
- 250 g semolina
- 5 eiers
Meng die meel en semolina saam in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel van die mengsel en breek die eiers daarin. Gebruik jou hande en knie die deeg tot elasties. Maak die deeg met kleefplastiek toe en laat rus vir sowat 20 minute. Jy kan nou jou pastamasjien gebruik om die deeg uit te rol, of ’n koekroller. Rol die deeg in lang, dun stroke en sny in blokke van ongeveer 8 cm x 10 cm. Bring ’n groot kastrol met water tot kookpunt. Voeg sout en olie by die kokende water. Dompel die pasta-blokke so 3 op ’n slag in die kookwater. Laat kook vir 3 minute en haal uit. Plaas die pastablokke op kombuispapier om droog te word.
Ricotta-en spinasievulsel
Jy kan ook bevrore spinasie gebruik. Ontdooi die spinasie en dreineer goed in ’n vergiettes en volg dan die resep.
- 400 g baba-spinasieblare
- 1 ui, fyngekap
- sowat 30 ml olyfolie
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 900 g ricottakaas
- 2 eiers
- sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie in ’n kastrol. Braai die gekapte ui en knoffel tot sag en deurskynend. Plaas intussen die spinasieblare in ’n groot kastrol en voeg net genoeg water by sodat die blare nat is. Verwelk die blare oor ’n lae hitte. Dreineer die spinasie in ’n vergiettes en maak seker jy raak van al die vloeistof ontslae. Kap die spinasie fyn in ’n voedselverwerker. Voeg die gekapte spinasie by die gebraaide ui en braai dit vir sowat 5 minute. Haal die kastrol van die hitte af en voeg die res van die bestanddele by. Meng baie goed en geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Roomsous
Jy gaan nou die witsous maak.
- 4 eetlepels botter
- 4 eetlepels meel
- 250 ml melk
- 250 ml room
- sout en varsgemaalde swartpeper
Smelt die botter in ’n kastrol. Voeg die meel by en roer goed sodat geen klonte vorm nie. Meng die melk en room en voeg dit stadig en bietjie vir bietjie by terwyl jy heeltyd roer. Dit moet ’n gladde, loperige witsous wees. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Onthou
Cannelloni stap vir stap
Stap 1:
Gooi helfte van die tamatiesous in ’n groot oondbak.
Stap 2:
Plaas die pasta-velle op ’n werkoppervlak en skep die ricotta-en-spinasievulsel in die middel. Rol die pasta-velle toe en plaas die rolle styf teen mekaar in die bak.
Stap 3:
Gooi die roomsous bo-oor.
Stap 4:
Skep die res van die tamatie-sous bo-op die roomsous.
Stap 5:
Sprinkel die gerasperde parmesaankaas oor.
Stap 6:
Stip sowat 30 ml botter bo-op.
Stap 7:
Bak in ’n voorafverhitte oond teen 180°C vir sowat 30 minute.
- Assistent Lynnae Janse van Rensburg
Verwante artikels
-
Tamatiesous (salsa di pomodoro)
SARIE - Augustus 2007
Kook hierdie tamatiesous en jou Italiaanse kookkuns is halfpad gewonne. Ek gee dit in twee hoeveelhede sodat jy genoeg het om te vries. En gebruik gerus geblikte tamaties.
















Kry jou SARIE oral, enige tyd