Coq au Vin-pastei (hoender in rooiwyn)
Foto’s: Micky Hoyle Galery
Dit klink dalk snaaks om dié gereg in ’n pastei te verander. Maar dis iets anders, en wanneer jy die kors breek, sal almal verbaas wees om te sien wat die vulsel is
(6 porsies)
- 8 hoenderdye
- 8 hoenderboudjies
- 1 bottel rooiwyn
- 2 lourierblare
- 2 takkies vars tiemie
- 250 g repiespek, in blokkies gesny
- 30 ml botter
- 30 ml olyfolie
- 12 klein uitjies
- 250 g sampioene
- 600 ml hoenderaftreksel
- 125 ml brandewyn
- 50 g tamatiepuree
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 1 vel blaardeeg van 400 g
- 1 eier, geklits
Die hoender moet oornag of vir minstens 5 ure in die yskas gemarineer word. Plaas die hoender, tiemie en lourierblare in ’n plat bak. Gooi die hele bottel rooiwyn oor en bedek met kleefplastiek. Die vleis is pers wanneer dit klaar gemarineer is. Verhit die oond tot 180 °C. Haal die hoender uit die marinade en droog af met kombuispapier. Hou die marinade. Verhit die botter en olie in die kastrol waarin al die bestanddele gaan kom. Braai die hoender (nie als op een slag nie) tot mooi bruin. Hou die hoender eenkant. Braai die spek en klein uitjies in dieselfde kastrol vir sowat 10 minute tot mooi bruin. Plaas die hoender terug in die kastrol saam met die sampioene, hoenderaftreksel, die rooiwyn-marinade (met die kruie), brandewyn en tamatiepuree. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en meng versigtig. Maak toe met ’n deksel. Plaas in die warm oond en laat kook vir 2 ure. As jy nie ’n pastei wil maak nie, kan jy dit nou voorsit. So nie, laat eers afkoel voor jy die deeg bo-op sit. Plaas die deeg in dieselfde kastrol bo-op en versier met orige deeg. Verf met die geklitse eier en plaas in ’n warm oond teen 200 °C vir sowat 30 minute tot dit mooi bruin is.
- Assistent Lynnae Janse van Rensburg
Verwante artikels
-
Chardonnay-hoender
SARIE KOS Augustus / September 2011
Jy gaan basies ’n coq au vin maak – hoender in rooiwyn. Ek vervang net die rooiwyn met chardonnay, wat die gereg ’n heeltemal nuwe smaak gee. Dis dan nie so swaar nie.
-
Coq au vin - hoender in rooiwyn
SARIE KOS Herfs 2010
















Kry jou SARIE oral, enige tyd