Grenadella-soufflé
Foto’s: Micky Hoyle Galery
Dit is werklik die maklikste van alle soufflés. Jy koop eenvoudig klaargemaakte vla, klits die eierwitte styf, en siedaar.
(4 porsies)
- 15 ml botter (om bakkies mee te smeer)
- sowat 30 ml strooisuiker
- 500 ml vla
- 2 blikkies (115 g) grenadellapulp
- 8 eierwitte
- versiersuiker om bo-oor te sif
Verhit jou oond tot 180 °C. Smeer 4 ramekin-bakkies goed met botter. Skud ’n klein bietjie strooisuiker in elke bakkie en rol die bakkie rond sodat ’n lagie suiker die gebotterde binnekant bedek. Giet die vla in ’n groot mengbak en voeg die grenadellapulp by. Meng goed. Klits die eierwitte styf, en vou sowat twee groot lepels daarvan by die grenadellapulp in. Vou dan die res van die eierwit versigtig in. Giet die mengsel tot bo in die voorbereide bakkies, en gebruik ’n skrapertjie om die oppervlak gelyk te maak. Trek met ’n mes al om die binnerand van elke bakkie en bak vir 15 - 20 minute. Haal uit die oond. Sif ’n klein bietjie versiersuiker bo-op elke soufflé en sit dadelik voor. (Jy kan dit ook met grenadellapulp bo-op versier.)
Om te drink
Natuurlike grenadellageure kom in ’n rieslingwyn voor. In Neethlingshof se Weisser Riesling Noble Late Harvest is ’n rykdom van grenadella-, appelkoos-, perske- en heuninggeure opgesluit wat hierdie soufflé tot sy reg laat kom.
Wenk
Gebruik die orige eiergele vir tuisgemaakte hollandaise sous of kruie-mayonnaise.
- Assistent Lynnae Janse van Rensburg
Verwante artikels
-
Donker-sjokolade-lemoen-soufflé
SARIE - April 2010
Jy hoef glad nie bang te wees vir dié soufflé nie. Al val dit plat, bly dit ewe lekker.Ek eet soufflé saam met roomys of vars room. Die koue daarvan sal die hitte van die soufflé balanseer.
















Kry jou SARIE oral, enige tyd