Hertzoggies

Deur Barbara Joubert, SARIE KOS - Lente 2008

Hertzoggies Foto’s: Micky Hoyle Galery

(sowat 16 blokkies)

Kors

  • 250 g (445 ml) koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • knippie sout
  • 125 g (135 ml) botter
  • 25 g (30 ml) strooisuiker
  • 3 eiergele 15 ml water

Bolaag

  • 1 blik 450 g All Gold Super Fine Apricot Jam oF All Gold Strawberry Jam
  • 3 eierwitte
  • 250 g (315 ml) suiker
  • 200 g (625 ml) fyn klapper

Verhit jou oond tot 160 ºC. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter in die meelmengsel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die strooisuiker by en meng deur. Klits die eiergele en water saam. Voeg dit by die meelmengsel en maak aan tot 'n deeg. Smeer 'n bakplaat van sowat 30 x 23 cm goed met botter. Druk die deeg met jou hande in die bakplaat. Smeer die konfyt van jou keuse op die deeg. Klits die eierwitte styf. Voeg die suiker lepel vir lepel by tot jy 'n stywe meringue het. Roer die klapper deur en sprei die meringue eweredig oor die konfyt. Bak vir 35 - 40 minute. Haal uit en sny in blokkies. Laat afkoel in die bakplaat voor jy die blokkies uithaal.

Kommentaar

  • Ek is mal oor die moderne twist wat julle op die tradisionele resep gesit het. Dis maar alles nuut vir my, want ek het nog nooit dit gemaak nie... Dankie Sarie!!

    18de Apr. 2012, 13:01
  • Ek stem heeltemal saam met Joan. Dan 'n ander ding - roer EERS die KLAPPER by die styfgesklitste eierwit en DAN die SUIKER. Dis baie belangrik. Die meringue/klapper bo-op lyk anders en die hele hertzoggie smaak sommmer net lekkerder. Sarie se resep meng julle eers die suiker en dan die klapper. Dis verkeerdom. As jul my nie glo nie, probeer dit gerus. Jul sal nie spyt wees nie. Die hele voorkoms is lewendiger.

    9de Jan. 2012, 11:11
  • Joan, wil jy nie jou resep met ons deel nie?

    27ste Aug. 2011, 20:38
  • Hi Joan Die resep (wat aan my ouma behoort het) maak ek al die jare. Dit is 'n vinniger en maklike manier om hertzoggies te maak. Ek kan as kind onthou as my ouma kom kuier het, het sy 'n koekblik vol van die hertzoggies gebring. Ek weet dat baie mense hul hertzoggies in vlak kolwyntjie pannetjies bak, maar dit is nou maar my manier om dit te doen. Ek weet dat Jan Smuts koekies (wat baie soortgelyk is aan 'n hertzoggie) ook in kolwyntjie pannetjies gebak word. Vandag soek baie mense kortpad met bak, so ek dink nie dit is verkeerd om hertzoggies so te bak nie. Groete Barbara Joubert

    25ste Mar. 2011, 08:03
  • ag nee sarie n mens maak mos nie hertzoggies so nie. die super fine konfyt kook uit en jy gebruik dit nooit nie, jy gebruik ook die growwe soort klapper en nie die fyn ene nie. ook word dit in die dieper pannetjies gebak en nie soos jul foto sn nie. Ek bak al jare hertzoggies sommer 8oo op een slag en ken my storie wens julle kon myne proe.

    24ste Mar. 2011, 19:06