Hoenderpastei met aartappels
Foto’s: Micky Hoyle Galery
’n Hoenderpastei bly ’n gunsteling in my familie. Hierdie resep is lekker maklik.
(4 - 6 porsies)
- 1 gaar hoender
- 15 ml botter
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 6 klein preie, in dik skywe gesny
- 250 ml room
- 4 klein Mediterreense aartappels, gaar en skil verwyder
- sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
- 1 vel blaardeeg (400 g)
- 1 eier, geklits
Verwyder die vleis van die hoender. Besluit self of jy die vel wil bysit - ek dink persoonlik dis die lekkerste deel van die hoender. Smelt die botter in ’n pan en braai die knoffel en preie saam tot sag. Meng die hoender, preie en aartappels in ’n groot mengbak. Gooi die room oor en meng goed. Geur met sout en swartpeper. Plaas die blaardeeg op ’n gesmeerde bakplaat. Smeer die deeg met die geklitste eier. Stapel nou die hoendermengsel in die middel van die blaardeeg op. Los so ’n 4 cm-rand oop. Vou die 4 cm-deeg om die hoender. Smeer die rand van die deeg met nog geklitste eier. Plaas in ’n warm oond teen 200 °C vir ongeveer 45 minute sodat die deeg gaar en mooi bruin word. Garneer met vars roosmaryn.
Sit voor saam met
’n Griekse slaai gemaak met blaarslaai, komkommer, tamaties, uie, fetakaas en swart olywe.
- Assistent Lynnae Janse van Rensburg
Verwante artikels
-
Hoenderpastei
SARIE - Desember 2010 | Kommentaar: 4
Geen familie-Kersfees sal volmaak wees sonder hoenderpastei nie. Hier is dit soos ek dit by my ma leer maak het.
-
Springbokpastei met slapdeeg-kors
SARIE KOS vir mans 2010 | Kommentaar: 2
Blaardeeg is gewild, maar dié kors is nog lekkerder - en almal kan dit maak.
















Kry jou SARIE oral, enige tyd