Individuele macaroni-en-kaas

Deur Barbara Joubert, SARIE KOS - Herfs 2008

Individuele macaroni-en-kaas Foto’s: Micky Hoyle Galery

Omdat ek ’n witsousbasis gebruik, is dit lekker om die gereg in klein bakkies te bak. Só is dit souseriger.

(6 porsies)

  • 250 g macaroni
  • 15 ml botter, om spek in te braai
  • 250 g repiespek, in klein blokkie gesny
  • 110 g botter
  • 60 g (100 ml) meel
  • 800 ml melk
  • 500 g sterk cheddarkaas, gerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 6 klein rosa-tamaties

Verhit jou oond tot 180 °C. Bring water in ’n groot kastrol tot kookpunt. Voeg ’n klein bietjie sonneblomolie by. Kook die macaroni vir sowat 8 minute daarin. Dreineer. Smelt die 15 ml botter in ’n pan en braai die spek lekker bros. Dreineer op kombuispapier. Smelt die 110 g botter in ’n kastrol. Voeg die meel by en roer goed tot ’n gladde pasta. Voeg die melk bietjie vir bietjie by en hou aan met roer tot die sous dik word. Jy het nou ’n witsous gemaak. Hou ’n bietjie van die kaas eenkant om bo-oor elke bakkie te sprinkel. Voeg die meeste van die kaas by die witsous en meng goed. Geur met sout en peper. Voeg die kaassous by die pasta en meng goed. Verdeel die macaroni tussen 6 bakkies, en sprinkel die spek en orige kaas bo-oor. Plaas ’n tamatie bo-op elkeen. Sit die bakkies op ’n bakplaat en bak vir sowat 30 minute.

Om te drink
’n Lekker Italiaanse wyn. Gaan loer in by Checkers vir ’n Sangiovese Toscana, in die tradisionele strooibottel, vir minder as R50.

  • Assistent Lynnae Janse van Rensburg

Verwante artikels