Kombinasie-kaaskoek

Deur Barbara Joubert, SARIE - Mei 2007

Kombinasie-kaaskoek Foto’s: Micky Hoyle Galery

Ek is mal oor kaaskoek en kan nooit besluit tussen die yskaskaaskoek of ’n gebakte kaaskoek nie. En hoekom nie altwee in een koek nie? Onthou om die vorige dag met die koek te begin.

 (23 cm grootte)

Deeg

  • 225 g koekmeel
  • 1 ml bakpoeier
  • 50 g strooisuiker
  • 30 ml botter
  • 1 eiergeel
  • sowat 150 ml melk

Gebruik jou voedselverwerker om die deeg te maak. Plaas die meel, bakpoeier, strooisuiker en botter in die voedselverwerker. Meng die bestanddele tot dit lyk soos broodkrummels. Voeg die eiergeel by en sowat die helfte van die melk.Meng dit. Voeg die res van die melk bietjie vir bietjie by tot dit ’n lekker stywe deeg is. Bedek met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir sowat 20 minute. Smeer of spuit ’n 23 cmlosboomkoekpan. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer die pan uit en laat die deeg oor die rand van die pan hang. Maak nou die eerste laag, wat van bokmelk-chevin gemaak word.

Bokmelk-kaasvulsel

  • 250 g bokmelk-chevinkaas
  • 75 ml koekmeel, gesif
  • 2 eiergele
  • 75 ml suiker
  • 15 ml suurlemoensap
  • gerasperde skil van halwe suurlemoen
  • 2 ml vanieljegeursel
  • knippie sout
  • 250 ml room, styfgeklop
  • 2 eierwitte, styfgeklop

Meng die chevinkaas en meel goed saam. Klits die eiergele en suiker saam in ’n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg die kaas en meelmengsel by en klits goed. Voeg die suurlemoensap, suurlemoenskil en vanieljegeursel by en meng goed. Vou die styfgeklopte room by en vou dan die eierwitte versigtig in. Gooi die mengsel in die koekpan en plaas in ’n voorafverhitte oond teen 160 °C vir 1 uur. Skakel die oond af en maak die deur effens oop. Laat die kaaskoek vir 1 uur in die oond afkoel. (Moenie bekommerd wees nie - die vulsel sal net tot halfpad teen die rand van die pan lê.) Haal uit en sny die deeg met ’n skerp mes op die rand van die pan af. Nou kan jy die boonste laag maak. Jy kan die bokmelkchevinkaas vervang met ricottakaas of roomkaas.

Roomkaas-bolaag

Vir dié laag gebruik ek nie bokmelkkaas nie. Dis vir my ’n heerlike kombinasie om die boonste laag ryk en romerig te hê.

  • 125 ml melk
  • 100 g strooisuiker
  • knippie sout
  • gerasperde skil van halwe suurlemoen
  • 2 eiergele
  • 25ml gelatien
  • 250 ml room
  • 250 g roomkaas, styfgeklop

Verhit die melk, strooisuiker, sout en gerasperde suurlemoenskil stadig in ’n kastrol. Klits die eiergele en voeg by die warmmelk. Hou aan met roer tot die mengsel verdik sodat die vla aan die agterkant van die houtlepel vaskleef. Gebruik ’n klein bakkie wat bo-op ’n ander bakkie sal pas om die gelatien te smelt. Voeg sowat 3 eetlepels koue water by die gelatien en meng. Gooi nou kookwater in ’n ander bak en plaas die bak met gelatien bo-op. Laat staan tot die gelatien gesmelt is. Voeg die gelatien by die warmvla. Laat die vla effens afkoel en voeg die roomkaas by. Vou die styfgeklopte roomby. Gooi die mengsel op die gebakte deel. Maak net seker dat die gebakte deel afgekoel het. Plaas die kaaskoek in die yskas tot gestol. Jy kan die kaaskoek versier met styfgeklopte room, roosblare of vars bessies.

Verwante artikels

  • Grondboontjie-en-karamel-kaaskoektert

    Grondboontjie-en-karamel-kaaskoektert

    SARIE KOS Herfs 2010

    Dié een móét jy net maak - dis lekkerte, gewaarborg!

  • Kaaskoekterte

    Kaaskoekterte

    SARIE KOS Herfs 2010

    As jy 'n kaaskoek verkies wat nie so lank bak nie, kan jy dit verander in 'n kaaskoektert. Gebruik dan quiche-panne (rond of langwerpig). Die vulsel word gehalveer. Onthou om ook die quiche-panne op 'n bakplaat in die oond te plaas.

  • Lemoen-yskas-kaaskoek

    Lemoen-yskas-kaaskoek

    SARIE KOS Lente 2010 | Kommentaar: 3

    Ek het dié kaaskoek leer maak toe ek nog in restaurante gewerk het. Jy kan dit aanpas nes jy wil - ek hou van sitrus.

  • Vinnige kondensmelkkaaskoek

    Vinnige kondensmelkkaaskoek

    SARIE KOS Lente 2010

    Kaaskoek kan lank neem om te maak, maar dié een is vinnig, maklik en lekker.

Web Development by FormFunction