Lamskenkels

Deur Barbara Joubert, SARIE - Junie 2008

Lamskenkels Foto’s: Micky Hoyle Galery

As jy lekker groot lamskenkels kry, lyk dit soos ’n mini-lamsboud. Lank en stadig gekook en met ’n lekker sous is dit ideaal vir onthaal

(4 - 6 porsies)

  • 4 lamskenkels van sowat 600 g elk
  • 100 g meel
  • 100 ml olyfolie
  • 1 blik gekapte tamaties
  • 1 rooi soetrissie, in groot stukke gesny
  • 2 wortels, in groot stukke gesny
  • 2 takke seldery, in groot stukke gesny
  • 1 ui, in kwarte gesny
  • 3 knoffelhuisies
  • 500 ml rooiwyn
  • 2 lourierblare
  • 3 vars takkies origanum
  • 500 ml groente-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 160 °C. Plaas tamaties, soetrissie, wortels, seldery, ui en knoffel in jou voedselverwerker en kap baie fyn. (As jy nie ’n voedselverwerker het nie, sal jy al die groente self moet fynkap.) Rol die lamskenkels in die meel en skud die oortollige meel af. Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol en braai die skenkels tot mooi bruin. Voeg die fyngekapte groente, rooiwyn, lourierblare, origanum en aftreksel by die skenkels. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en maak toe met ’n deksel. Kook vir minstens 3 tot 4 ure tot die vleis feitlik van die been af val. Jy kan ook die deksel van die kastrol afhaal vir die laaste uur as die sous te veel is.

  • Assistent Lynnae Janse van Rensburg

Verwante artikels

  • Lamskenkel-pasteie

    Lamskenkel-pasteie

    SARIE KOS April/Mei 2011

    Om die skenkels in pasteie te omskep is veral lekker as jy gaste het. Maak vir elkeen sy eie pastei. So nie kan jy een groot pastei maak.

  • Tamarinde-skenkels

    Tamarinde-skenkels

    Eenvoudig wow! Dis maklik om te maak, maar gaste sal dink jy was heeldag voor die kospotte