Olyf-en-uietert
Foto’s: Donna Lewis Galery
BIZERCA BISTRO IS EEN VAN DIE KAAP SE GEWILDSTE EETPLEKKE. Hier kook die Fransman Laurent en sy Pretoriase vrou, Cyrillia van der Merwe, reeds drie en ’n half jaar lank ’n hond uit ’n bos, vandat hulle terug is uit Australië. Bizerca is bekend vir eenvoudige kos met ’n sterk Franse invloed.
Laurent glo die geheim van Franse kos is baie botter, veral as jy uie braai. En hy kook net met plaasbotter.
(2 PORSIES)
- 2 uie, geskil
- 30 g botter
- 30 ml vars tiemie, gekap
- 1 lourierblaar
- 400 g-rol blaardeeg (puff pastry), ontdooi in yskas
- 100 g swart olywe, ontpit
- 4 ansjovis-filette
- 150 g slaaiblare van jou keuse
- 2 grasuie, fyngekap
- hand vol parmesaan-skaafsels
- sout en varsgemaalde swartpeper
- geklitste eier om oor deeg te verf
1. Verhit oond tot 220 °C. Gebruik ’n skerp mes en sny uie middeldeur en dan in dun ringe. Hou eenkant. Werk versigtig sodat jy jouself nie raaksny nie.
2. Verhit botter tot warm in ’n mediumgroot braaipan. Voeg die uie, tiemie en lourierblaar by. Verlaag hitte en roerbraai vir 8 – 10 minute of tot uie sag en gekarameliseer is. Hou eenkant.
3. Rol deeg uit en sny in twee vierkante van 12 x 12 cm. Plaas op bakplaat uitgevoer met bakpapier en bespuit met kleefwerende sproei. Gebruik punt van mes en maak ’n dun snytjie 1 cm van deeg se rand af, maar nie heeltemal deur die deeg nie. Prik die res van die middelste gedeelte met ’n vurk. (Dit maak dat net die rand van die tert rys.) Verf liggies met eiermengsel. Bak 15 – 20 minute of tot goudbruin en gaar.
4. Die geheim is om die uie lank en stadig te braai, want dit bring al die smaak uit. Onthou om die lourierblaar te verwyder wanneer jy die uie in die tertjies skep. Verwyder deeg uit oond en skep gaar uie in. Verdeel olywe en ansjovis tussen tertjies. Geur goed met sout en swartpeper. Plaas terug in oond en bak vir nog 5 minute. Sit warm tertjies dadelik met slaai, grasuie en parmesaanskaafsels voor.




Verwante artikels
-
Botterskorsie-en-sampioen tert
SARIE KOS Junie/Julie 2011
Dis perfek om in te pak werk toe vir môre semiddagete.
-
Fillo-tert met botterskorsie en feta
SARIE KOS Augustus / September 2011
-
Patat-tertjies
SARIE - Mei 2010
Nie heeltemal soet nie, maar ook nie eintlik sout nie.
-
Sampioen-bokmelkkaas-en-spektertjies
SARIE - Januarie 2011
30 minute
-
Spinasie-tertjies
SARIE KOS Somer 2009/10
Lekker vir middagete. 6 porsies
-
Vou-tert met uie, chorizo en sampioene
SARIE KOS Augustus / September 2011





















Kommentaar
Christa Bothma het gesê:
Lyk leka ne
4de Des. 2011, 19:20