Rooiwyn-risotto
Foto’s: Micky Hoyle Galery
Dis ideaal vir koue aande voor die kaggel. Hou altyd 'n lekker glas rooiwyn byderhand.
(4 - 6 porsies)
- 15 ml botter
- 15 ml olyfolie
- 1 rooi-ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 2 chorizo-worse, in blokkies gesny
- 300 g (375 ml) arborio-rys
- 250 ml rooiwyn
- sowat 1,5 liter hoenderaftreksel
- 1 blik (400 g) rooi bone, gedreineer en afgespoel
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 100 g pecorinokaas, gerasper
- handvol pietersielie, fyngekap
Verhit die botter en olyfolie saam in ’n kastrol. Braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg die chorizo-blokkies by en braai vir 2 minute. Voeg die rys by en braai vir nog 2 minute. Nou kom die rooiwyn by - kook dit af. Onthou om aanhoudend te roer. Voeg die hoenderaftreksel soplepel vir soplepel by. Ná elke byvoeging moet die aftreksel amper wegkook, maar nie heeltemal nie. Ná sowat 15 minute hiervan kom die bone by. Hou aan aftreksel byvoeg tot die rys na jou smaak reg is. Geur met sout en peper. Voeg die pecorinokaas en pietersielie by. Sit dadelik voor.
Om te drink
Chorizo is 'n Spaanse wors met 'n effense byt, en verg 'n wyn met genoeg skop sodat die robuuste geure nie die wyn oorweldig nie. 'n Tipiese Spaanse kultivar soos tempranillo is 'n goeie keuse. Die Krans maak 'n heerlike een. As jy sukkel om tempranillo in die hande te kry, probeer gerus Allesverloren Tinta Barocca.
- Assistent Lynnae Janse van Rensburg
Verwante artikels
-
Sampioen-en-bloukaas-risotto
SARIE KOS Herfs 2010 | Kommentaar: 1
30 minute
-
Sampioen-en-botterskorsie-risotto
SARIE KOS April/Mei 2011
'n Alles-in-een-ete!
















Kry jou SARIE oral, enige tyd