Sjokolade-fudgekoek

SARIE Februarie 2012

Eugene Joubert van Pretoria het dié resep vir SARIE KOS ingestuur. Dis so klam dat jy dit sonder versiersel kan eet. Of gebruik gewone botterversiersel.

(8 – 10 porsies)

  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 300 g (325 ml) suiker
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 65 g kakao
  • 7,5 ml koeksoda
  • 5 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 3 groot eiers
  • 315 ml karringmelk
  • 10 ml vanielje-ekstrak
  • 145 ml sonneblomolie
  • 315 ml varsgemaakte filterkoffie

Botterversiersel

  • 500 g sagte botter
  • 650 g versiersuiker, gesif
  • 45 ml kakaopoeier
  • 10 ml vanieljegeursel

Verhit oond tot 170 °C. Spuit twee 20 cm-koekpanne van minstens 7 cm diep met kleefwerende kossproei en voer uit met bakpapier. Sif die koekmeel, suiker, bruinsuiker, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout saam. Klits die eiers, karringmelk, vanielje en olie saam. Voeg die droë bestanddele geleidelik by eiermengsel en klits goed. Maak seker droë bestanddele is goed ingemeng. Voeg koffie by en klits goed.
Verdeel beslag tussen die panne en bak vir sowat 45 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Plaas die panne op ’n draadrak vir 10 minute. Maak koeke met skerp mes van rand los en keer uit. Laat heeltemal afkoel. Sny bokante van koeke netjies reguit af.

Botterversiersel: Room botter in elektriese menger tot lig en romerig. Voeg versiersuiker, kakao en vanielje by. Meng goed. Plaas eerste laag koek op bord. Skep helfte van versiersel bo-op en versprei eweredig met slaplemmes. Plaas tweede laag koek bo-op en smeer met res van versiersel. Sit voor.
Eugene se karamelversierselresep is op sarie.com.

Verwante artikels

Kommentaar

  • Karamelversierselresep

    10de Mei. 2012, 07:56
  • Kan mens die koek in 'n tuitpan bak en vir hoe lank?

    11de Apr. 2012, 08:08
  • Kan nie wag om die resept te toetsbestuur nie!

    29ste Mar. 2012, 19:18
  • kry ook nie die karamelversiersel nie!

    15de Mar. 2012, 15:47
  • Kry nie Eugene se karamelversierselresep raakgesien nie

    12de Mar. 2012, 11:27
  • http://www.sarie.com/kos/resepte/3de-plek-wenner-eugene-joubert-se-sjokolade-fudgekoek-met-donkersjokolade-en-karamelversiersel

    6de Mar. 2012, 08:33
  • waar op aarde kry ek die karamelversierselresep?

    25ste Feb. 2012, 10:07