Springbok in rooiwyn
Foto’s: Micky Hoyle Galery
Noem dit sommer "bok au vin"! Dit word immers in 'n hele bottel rooiwyn gaargemaak.
(6 porsies)
- 1,1kg springbokvleis, in blokke van sowat 3cm gesny
- 1 bottel (750ml) rooiwyn, verkieslik shiraz
- 3 knoffelhuisies, in skywe gesny
- 3 vars tiemietakkies
- 3 lourierblare
- 3 vars pietersielietakkies
- 100g (110ml) botter
- 1 ui, fyngekap
- 2 wortels, in lang repies gesny
- 30ml koekmeel
- 350g gerookte spek, in blokkies gesny
- 15 salotte of pekeluitjies
- 250g wit sampioene, gehalveer
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Plaas vleis in 'n groot plat bak en gooi rooiwyn oor. Voeg die knoffel, tiemie, lourierblare en pietersielie by. Maak die bak toe met kleefplastiek en los oornag in die yskas. Die vleis gaan nou lekker marineer en donkerder word. Haal vleis uit die marinade, maar hou die marinade met al die kruie eenkant; jy gaan die vleis hierin kook. Droog die vleis af met kombuispapier. Verhit oond tot 160°C. Smelt helfte van die botter in 'n oondkastrol. Braai die ui en wortels net totdat die ui sag en deurskynend is. Hou eenkant. Verhit helfte van die oorblywende botter (25 g) in 'n pan en braai vleis (nie alles gelyk nie) tot effens bruin. Voeg vleis by die groente. Verhit weer op stoof, sprinkel meel oor en roer deur totdat alles met meel bedek is. Voeg die marinade by en bring net tot kookpunt. Sit 'n deksel op kastrol. Plaas in oond vir 2 uur. Nou kan jy die laaste 25g botter in 'n pan smelt. Braai die spek en salotte vir sowat 10 minute daarin. Voeg dit en die sampioene by die vleis en sit weer die deksel op. Geur met sout en swartpeper. Sit in die oond vir nog 30 minute. Sit voor met Franse brood om al daardie lekker sous te geniet.
Om te drink:
Cederberg Cederberger-versnit
- Assistent Melissa Pecoraro
Verwante artikels
-
Beesfilet met rooiwynsous
SARIE KOS - Herfs 2008
-
Eendborsies met port- rooiwyn-en-kersiesous
SARIE KOS Lente 2009
Wonderlik vir ’n ete waarmee jy nou regtig jou gaste wil beïndruk.
-
Gerookte springbok-carpaccio met knoffel-en-fetakaas-platbrood en soetrissie-kompot
SARIE KOS Winter 2009
-
Hoender in rooiwyn
SARIE KOS Winter 2009
-
Springboknek-pot met kluitjies en ’n deegmannetjie
SARIE KOS - Winter 2008
As jy nie springbok in die hande kan kry nie of nie mal is oor wildsvleis nie, kan jy lamsnek gebruik.
















Kommentaar