Springboknek-pot met kluitjies en ’n deegmannetjie

Deur Justin Bonello, SARIE KOS - Winter 2008

Springboknek-pot met kluitjies en ’n deegmannetjie Foto’s: Duane Howard Galery

As jy nie springbok in die hande kan kry nie of nie mal is oor wildsvleis nie, kan jy lamsnek gebruik.

(4 - 6 porsies)

  • 1,5 kg springboknek, in stukke gesny
  • koekmeel om die vleis te bedek
  • goeie skeut olyfolie
  • 1 ui, grofgekap
  • 2 preie, in dun skyfies gesny
  • 3 knoffelhuisies, grofgekap
  • 10 ml growwe sout
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 vars roosmaryntakkie
  • 250 ml goeie rooiwyn, warm
  • 500 ml vleisaftreksel, warm (of genoeg om die vleis in die pot toe te maak)
  • 2 wortels, in dun skyfies gesny
  • halwe botterskorsie, in stukke gesny

Bedek die vleis liggies met die meel en braai in jou swartpot (of swaar pot met styfpassende deksel) in die olyfolie tot bruin. Voeg die ui, preie en knoffel by en braai tot die ui deurskynend word. Voeg sout, swartpeper, roosmaryn, rooiwyn en aftreksel by, roer goed deur en sit die deksel op. Prut oor stadige hitte vir 2 ½ tot 3 ure tot die vleis sag is. Dit is baie belangrik dat die pot moet prut - dit is wat die “potjiekos-fluister” veroorsaak. As jy die pot te vinnig laat kook, sal die vleis taai word en soos leer smaak, so: stadige hitte! As die vleis sag is, pak jy die wortels en botterskorsie bo-op, sonder om te roer. Kook dan verder vir 20 minute. Nou maak jy die kluitjies en die deegmannetjie.

Kluitjies

  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 500 g koekmeel
  • pecorino-kaas na smaak, gerasper
  • 100 g botter
  • sowat 250 ml koue water

Sif die bakpoeier, sout en meel saam. Voeg die kaas by, en vryf dan die botter met jou vingerpunte in die mengsel in. Voeg die water geleidelik by tot jy ’n sagte, maar nie-klewerige deeg het. Breek klein stukkies deeg af, omtrent so groot soos die helfte van ’n eier, en sit dit in die pot, in die sous. Om die deegmannetjie te maak rol jy ’n stuk deeg uit, druk ’n mannetjie met ’n koekiedrukker uit, en sit dit bo-op alles in die pot. Sit die deksel terug vir nog 20 - 25 minute tot die kluitjies deurgaar is. Moenie in hierdie tyd loer nie, anders sal jou kluitjies misluk. Sit voor saam met ’n goeie glas rooiwyn.

Verwante artikels

  • Lamspotjie met kluitjies

    Lamspotjie met kluitjies

    SARIE Junie 2011

    Spaar tyd en weeg die bestanddele vir die kluitjies by die huis af.

  • O, Cooked, dis Justin

    O, Cooked, dis Justin

    SARIE KOS - Winter 2008

    SA se bekendste TV-sjef, Justin Bonello, het twee internasionale TV-reekse agter die blad. Hy gesels oor vetkoek in Namibië en visvang en peri-peri in Mosambiek

  • Springbok in rooiwyn

    Springbok in rooiwyn

    SARIE KOS vir mans 2010

    Noem dit sommer "bok au vin"! Dit word immers in 'n hele bottel rooiwyn gaargemaak.